President Cyril Ramaphosa se onderneming dat die Zoeloe-koning se Ingonyama-trustgronde nie beskou word as deel van die proses van onteiening sonder vergoeding nie, skep gevaarlike dubbele standaarde oor die aangeleentheid.
Dr. Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se uitsprake dat swart mense en tradisionele leiers uitgesluit is van die beoogde proses van onteiening sonder vergoeding, wys die ware kleure van die ANC dat onteiening sonder vergoeding eintlik gemik is teen wit mense.
Hierdie stellings openbaar die ANC se voorheen verskuilde agenda om net sekere eiendom op ‘n selektiewe grondslag te teiken.
Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het in die parlement met pres. Ramaphosa se begrotingspos-debat juis gevra wie beskou die president as die ‘onregmatige eienaars’ van wie grond afgeneem gaan word aangesien hy gesê het grond gaan teruggegee word aan die ‘regmatige eienaars’.
Nou is dit duidelik dat wit mense se eiendom geteiken word. Dit is onbillik, onreverdig en totaal onaanvaarbaar. Die oplossing is eenvoudig, en dit is dat die ANC die hele proses van onteiening sonder vergoeding moet laat vaar.
Dit word nou ook duidelik dat die ANC die onteieningskwessie gebruik as politieke propaganda vir die komende algeme verkiesing aangesien hy beloftes van vrywaring maak teenoor moontlike ondersteuners en kiesers.
Onteiening sonder vergoeding kan nie selektief toegepas word soos dit die regering van die dag behaag nie. Dit sal ‘n Zimbabwe-situasie skep waar wit boere geteiken is en hul grond aan lojale kaders van oud-pres. Robert Mugabe uitgedeel is.
Die VF Plus se standpunt is steeds dat onteiening sonder vergoeding totaal onaavaarbaar is. Artikel 25 van die Grondwet moet korrek toegepas moet word en die ANC-regering moet erken dat die departement van landelike ontwikkeling en grondhervormig misluk het met sy projekte van grondhervorming.
Indien die regering en die departement hul werk behoorlik doen en mislukkings omskakel in suksesse, sal grondhervorming in Suid-Afrika aan die verwagtinge van die mense voldoen.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216