Die feit dat Suid-Afrika nou voor die Verenigde Nasies (VN) probeer het om internasionale internet-sensuur afdwingbaar te maak, dien as bewys dat pogings om die SAUK te sensureer in lyn is met die ANC-regering se siening oor vryheid van spraak,” sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Luidens ‘n verklaring van Article 19, ‘n internasionale drukgroep vir vryheid van uitdrukking waaroor wyd op die internet berig word, het Suid-Afrika verlede Vrydag by die VN saam met ongure vriende soos China, Rusland en Kuba teen ‘n resolusie gestem wat daarop gemik is om vryheid van uitdrukking op die internet te verskans. Daarteenoor het meer as sewentig lande dit gesteun.
Van die veranderinge wat Suid-Afrika en sy bondgenote voorgestel het, was vir lande om vrye toegang tot die internet vir hul inwoners te beperk, en die verwydering van die term ‘Vryheid van Uitdrukking’ uit die resolusie.
Volgens dr. Mulder is dit veral kommerwekkend dat Suid-Afrika se verteenwoordiger by die VN se raad vir menseregte, Ncumisa Notutela, tydens die sitting gesê het die Suid-Afrikaanse Grondwet verskans wel vryheid van uitdrukking, maar dat die uitoefening van vryheid van uitdrukking en opinie nie ‘n ‘absolute reg is nie’.
Hy sê die afleiding kan hieruit gemaak word dat die SAUK nou bloot beleid begin uitvoer rakende spraakvryheid waarop die ANC lank reeds besluit het.
“Wat hier gebeur het, is sinister en plaas die gebeure by die SAUK in ‘n meer ernstige lig. Dit wil al hoe meer voorkom asof die woelinge by die SAUK nie net die maaksel van Hlaudi Motsoeneng is nie, maar dat hy oënskynlik net die bevele van sy politieke meesters uitvoer.
“Die rede agter alles is eenvoudig: ‘n Benoude kant maak benoude spronge en dit is wat die ANC tans doen. Dit het nou aan die lig gekom dat bevele uitgevaardig is om opposisiepartye dood te swyg terwyl opdragte om geweld nie uit te saai nie, bekend is.
“Wat Suid-Afrika aanbetref, is die djin van spraakvryheid in die era net na 1994 reeds met die hulp van opposisiepartye uit die bottel vrygelaat en geniet Suid-Afrika wye vryheid van spraak en inligting deur die media en sosiale media. Om dit om te keer, sal drastiese stappe verg wat ernstige weerstand van die VF Plus en die publiek sal ontlok.
“Dit is egter duidelik dat sulke planne wel gesmee word. Die Wetsontwerp op Kubermisdaad en Kubersekuriteit is verlede jaar afgekondig. Die doel daarvan is om internetvryheid en die besit van inligting vir veral joernaliste aan bande te lê.
“Daar dien tans ook wetgewing voor die parlement wat die minister en die president meer magte sal gee in terme van die Uitsaaiwet.
“Die Rolprent-en-publikasieraad (RPR) het verlede jaar regulasies voorgestel wat ‘n verbod sal plaas op die vrye plasing van digitale inhoud op die internet, selfs deur individue. Dié wetsontwerp en regulasies dien steeds voor die parlement en die VF Plus sal dit op elke manier moontlik teenstaan,” sê dr. Mulder.
Navrae: 083 419 5403 / 082 674 6670