(Debat in parlement: Oorsigbesoek van parlementêre portefeuljekomitee vir openbare werke aan Gauteng)
Die ANC-regering se fokus was tot nou toe hoofsaaklik op die plundering van die fiskus en nie op die instandhouding van die land se infrastruktuur en ander staatsbates nie.
Behoorlike infrastruktuur is die lewensaar van die ekonomie en verseker dat inwoners toegang het tot paaie, brûe, skole, water en vele ander dienste. Sonder behoorlike onderhoud aan infrastruktuur kan geen land ekonomies oorleef nie. Geen internasionale belegger sal geld in Suid-Afrika kom belê terwyl die infrastruktuur nie opgeknap en in stand gehou word nie
In Suid-Afrika rus die onus op die departement openbare werke en infrastruktuur om hierdie instandhouding te doen. Nie net is die departement die bewaarder en bestuurder van die staat se onroerende bates nie, maar ook die skepper en instandhouer van Suid-Afrika se infrastruktuur
Dit gebeur egter nie en net soos die regering het hierdie departement die mense van Suid-Afrika gefaal. Die fokus was hoofsaaklik op plundering en die implementering van skadelike beleid soos regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en die land se infrastruktuur is in ‘n haglike toestand.
Enkele van die tallose voorbeelde hiervan is Vereeniging waar die infrastruktuur totaal in duie gestort het en rioolwater deur huise stroom terwyl die pad tussen Viljoenskroon en Parys in die Vrystaat feitlik onbruikbaar geraak het.
Luidens die 2017-infrastruktuurverslagkaart vir Suid-Afrika van die SA Institution of Civil Engineering is 'n algehele graad D+ vir openbare infrastruktuur aan Suid-Afrika toegeken wat beteken dit staan op die punt om te misluk of in duie te stort.
So ook by die ontwikkelings in gebiede soos Brickvale and Daggafontein in Gauteng wat op onveilige dolomietgrond gedoen is. Dit is ‘n ramp wat wag om te gebeur en die ontwikkelings moet sonder meer gestop word.
Die gebou Telkom Towers in Pretoria het meer as R1,6 miljard gekos om op te knap vir die polisie. Die gebou staan nou leeg terwyl dit die belastingbetaler sowat R500 000 per maand kos aan sekuriteitsdienste om die gebou te beveilig.
Die ANC het oor 25 jaar herhaaldelik gewys hy is nie in staat om te bestuur of te regeer nie. Hy is nie in staat om nuwe infrastruktuur te skep nie terwyl bestaande bates tot niet gaan. De VF Plus sal onverpoos werk om die regering hieroor tot orde te roep.
Kontaknommer: 060 556 4347