fbpx
Vryheidsfront Plus

Akademici word “vermors” deur regeringsbeleid

Regeringsbeleid is nie daarop gemik om die beste waarde uit Suid-Afrika se akademiese rykdom te put nie. Dit blyk uit die antwoorde op twee skriftelike vrae van die VF Plus aan die minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie. 

Een vraag het gehandel oor die behoud van akademici na die verpligte aftreeouderdom van 65. Die minister se antwoord was dat akademici wel vir 'n verdere drie jaar in diens gehou kan word, maar dit blyk eerder die uitsondering as die reël te wees. Verder antwoord die minister dat die klem op die ontwikkeling van opkomende akademici is en dat afgetrede akademici as mentors en aflospersoneel ingespan kan word.

In werklikheid is 'n akademikus van 65 op die hoogtepunt van sy of haar loopbaan. Met lewensverwagting sowel as gesondheid op hoër ouderdom wat steeds verhoog, kan akademici op daardie ouderdom van hul mees produktiewe werk lewer.

Nobelpryswenners ouer as 65 is meer as 32% van die totaal en diegene ouer as 60 meer as helfte. Trouens, daar is 38 wenners van dié eerbewys wat met ontvangs ouer as 80 was. Voortsetting van akademiese loopbane ná 65 behoort die reël eerder as die uitsondering te wees.

Nog 'n vraag het gehandel oor beloning vir navorsingsuitsette aan entiteite binne die departement, byvoorbeeld die RGN, WNNR en Iziko Museums. Tans kan individuele navorsers aan hierdie instansies finansiering vir navorsing van die staat ontvang, maar nie die instellings self nie. Dit verskil van universiteite, vir wie beloning vir geakkrediteerde navorsingsuitsette 'n belangrike deel van die finansieringsmodel uitmaak.

Anders gestel, as 'n personeellid van 'n universiteit 'n artikel in 'n geakkrediteerde akademiese joernaal publiseer, ontvang die universiteit 'n noemenswaardige bedrag uit die Nasionale Navorsingstigting (NRF). Indien 'n personeellid van byvoorbeeld die Landbounavorsingsraad dieselfde prestasie behaal, ontvang die LNR nie 'n sent as gevolg daarvan nie.

Die minister het aangedui dat daar geen plan is om hierdie werkswyse te verander nie. Dit beperk die bydrae wat hierdie instansies kan lewer om 'n kennisgebaseerde ekonomie in Suid-Afrika tot stand te bring.

Terwyl die VF Plus eens is oor die noodsaak om 'n nuwe geslag akademici en wetenskaplikes te ontwikkel, kan dié proses net daarby baat vind as diegene ouer as 65 se bydrae ten volle benut word, in plaas daarvan om hulle bloot as "spaarwiele" aan te wend.

Verder behoort universiteite en ander wetenskaplike instellings op dieselfde wyse by die akademiese uitsette van hul personeellede baat te vind.

Kontaknommer: 074 166 5540

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.