Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ActionSA/ANC/EFF-koalisie laat kritieke infrastruktuur in Tshwane weerloos

Die huidige ActionSA/ANC/EFF-koalisie in die Tshwane-metroraad laat kritieke munisipale infrastruktuur en sleutelpunte net twee weke voor die verkiesing sonder enige sekuriteit.

Die VF Plus kan tot geen ander gevolgtrekking kom as dat sekuriteitskontrakte doelbewus, of deur growwe nalatigheid, toegelaat is om te verval sodat die weg berei kan word vir totale anargie wanneer die huidige bewind op 4 November deur die kiesers verwerp gaan word nie.

Die resultaat van die stadsadministrasie se roekelose optrede is dat openbare toegang tot hoërisiko-geriewe nou onbeheerbaar is, wat reeds die toestande vir anargie skep in die aanloop tot en onmiddellik ná die komende verkiesing.

’n Onlangse besoek deur ’n lid van die publiek aan die Wonderboom-lughawe het die omvang van die probleem blootgelê. By sy aankoms is hy meegedeel dat die metro se sekuriteitstoegangspermitte onklaar is en dat daar geen nuwe voorraad is nie.

Lede van die publiek word eenvoudig toegelaat om deur te ry sonder enige verklaring, identifikasie of registrasie. Onder normale omstandighede moet ’n persoon sy ID toon, die voertuigregistrasie gee en die bestemming verklaar. Tans kan enige persoon ongekontroleerd na alle sleutelinfrastruktuur op die lughawe beweeg.

Hierdie situasie is heeltemal onaanvaarbaar by ’n gerief wat meer as 2 500 mense ondersteun, tientalle lugvaartondernemings huisves en duisende vliegtuigbewegings per jaar hanteer. Dit is des te meer ernstig omdat hoërisikovlugte – insluitend gereelde vlugte van die SA Munt wat geldvoorrade landwyd versprei – van hierdie lughawe vertrek.

Dieselfde patroon geld by ander munisipale sleutelpunte waar kontrakte rondom 1 Oktober verval het sonder behoorlike opvolging. Dit het reeds gelei tot die plundering van die Temba-watersuiweringsaanleg en verskeie ander infrastruktuurbates. Verskeie elektriese substasies staan tans net so onbeskermd.

Die VF Plus het ’n dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder, mnr. Johann Mettler, waarin noodmaatreëls versoek word.

Daarin vra die VF Plus dat:

• Bestaande sekuriteitskontrakte onmiddellik op ’n maand-tot-maand-grondslag tot ná die verkiesing verleng word.

• Die metro se beskermingsdienste, insluitend die Tshwane-metropolisie (TMPD), onmiddellik opdrag kry om infrastruktuur, lughawegeriewe en ander sleutelpunte te beveilig.

Die administrasie het maande gehad om ’n soomlose oorgang te reël. In stede daarvan word inwoners en ondernemings aan ’n veiligheidsvakuum blootgestel terwyl politieke partye in die koalisie blykbaar meer op hul eie belange fokus.

Die koalisie onder burgemeester Nasiphi Moya het herhaaldelik gewys dat hy nie in staat is om basiese bestuur te verseker nie. Die verstryking van sekuriteitskontrakte, swak toegangskontrole en die gebrek aan proaktiewe optrede is simptome van ’n groter ineenstorting van beheer. Indien hierdie patroon voortduur, sal dit die deur wyd oopmaak vir verdere onwettige aktiwiteite, sabotasie en anargie ná die verkiesing.

Die VF Plus doen ’n dringende beroep op mnr. Mettler en die burgemeester om onmiddellik op te tree: Verleng die kontrakte, span die TMPD en ander beskermingsdienste in, en doen volle openbare verslag oor die tussentydse sekuriteitsreëlings by die Wonderboom-lughawe en ander sleutelpunte.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.