Dit het vandag aan die lig gekom dat Isaac Seoe, veroordeelde bedrieër en vriend en voormalige vennoot van die Vrystaatse premier, Ace Magashule, die eienaar is van die gebou waarin die kantore van die Vrystaatse wetgewer gesetel is.
Seoe is uitvoerende direkteur van Robs Properties aan wie die gebou behoort. Die huurkontrak wat die wetgewer op 1 Junie 2017 met Robs Properties geteken het, is vir 10 jaar bindend en behels maandelikse huur van sowat R820 000.
Die VF Plus het verneem dat die wetgewer op datum is met sy huurverpligtinge aan Robs Properties, maar die kragtoevoer na die gebou is vandag nogtans afgesny aangesien Robs Properties glo agterstallige skuld het by die elektrisiteitsverskaffer, Centlec.
Die effek van die skuldigbevinding van Seoe, raak nou die werking van die Vrystaatse wetgewer-kantore wat Woensdagoggend in donkerte gehul is weens beweerde wanbetaling van elektrisiteit.
Dít is die nalatenskap van Magashule se vennootskap met Seoe en ander omstrede persone: ‘n provinsiale regering waarvan die ligte letterlik nou af is.
Seoe is die afgelope week in die Vrystaatse Hooggeregshof skuldig bevind aan bedrog van R30 miljoen wat verband hou met ‘n onderwystender in die provinsie.
Belangrike werksaamhede van die wetgewer word nou weereens gekniehalter en ‘n belangrike begrotings- en oorsigkomiteevergadering asook ‘n vergadering van die swepe in die wetgewer word nou oënskynlik geraak deur Seoe se skuldigbevinding.
Daar was in 2017 ook gevalle waar elektrisiteit en water na die gebou onderbreek is en die wetgewer kon toe vir dae lank nie sy funksies verrig nie. Die gebou is in ‘n jammerlike toestand en tog word die eienaar nie verantwoordelik gehou nie.
Die VF Plus is besorg oor die pad vorentoe vir die Vrystaatse wetgewer, aangesien daar met die mislukte Ramkraal-ontwikkeling onder Magashule se bewind, tans nie ‘n ander heenkome vir die wetgewer is nie.
Daar is met Seoe se skuldigbevinding ook onsekerheid oor die toekoms van sy eiendomsbelange waarvan die wetgewer tans een huur.
Die Vrystaat kan dit nie bekostig dat belangrike politieke-, administratiewe- en oorsigfunksies van die wetgewer weens bedrieglike individue met politieke bande geraak word nie.
Kontaknommers: 082 490 6663