fbpx
Vryheidsfront Plus

Aarto is disfunksioneel in Johannesburg- en Tshwane-metro en stel padgebruikers in gevaar

Die VF Plus het met skok kennis geneem dat Aarto (Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings), wat tans in die Johannesburg- en Tshwane-metro geïmplementeer word en die enigste polisiëringstelsel is om padgebruikers se gedrag te reguleer, sedert 1 Julie 2021 wanfunksioneel is.

Die situasie het ontstaan omdat die kontrak van die bestaande diensverskaffer wat verkeersboetes administreer, verval het en geen nuwe diensverskaffer weer aangestel is nie.

Dit beteken dat geen polisiëring van roekelose bestuurders se gedrag meer kan plaasvind nie aangesien boetes eenvoudig verval weens die nie-uitreiking daarvan.

Die Aarto-stelsel vereis dat enige boete wat geskep word, binne 30 dae uitgereik moet word anders is die boete onreëlmatig en verval die geldigheid daarvan. Aangesien geen boetes meer uitgereik word, nie is die effek daarvan dat roekelose bestuurders tans in 'n straffelose omgewing kan bestuur soos hulle wil en ander padgebruikers se lewe in gevaar stel.

Die VF Plus het al voorheen gewaarsku dat die Aarto-stelsel nie gereed is om landwyd uit te rol nie omdat die stelsel se toepassing in Gauteng heeltemal gefaal het.

Die hoofdoel van die Aarto-stelsel is om paaie veiliger vir motoriste te maak. Tydens die toetsfase van Aarto in die Johannesburg- en Tshwane-metro het die aantal roekelose optredes, ongelukke, beserings en padsterftes egter nie gedaal nie. Voorts was daar gedurige administratiewe probleme om Aarto funksioneel te hou.

Aangesien die vorige polisiëring van roekelose bestuursgedrag deur motoriste voorheen deur die strafregstelsel hanteer is wat nou heeltemal vervang is deur Aarto, is daar geen stelsel wat padgebruikers straf en dwing om beter te bestuur wanneer Aarto wanfunksioneel is nie.

Hierdie stand van sake is bloot 'n voortsetting van die ANC se roekelose vorm van regering in Gauteng.

Die VF Plus sal dringende navrae in dié verband aan die Gautengse departement van paaie rig.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.