Die burgemeester van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier), me. Sibongile Makushe, se voorneme om onwettige nedersettings wettig te verklaar, is bloot ‘n verkiesingsfoefie.
Makushe se populistiese oplossing vir 'n komplekse probleem getuig van opportunisme om stemme te koop vir die ANC in die 2024-verkiesing.
Dit blyk dat sy nou fokus op die armer en landelike gebiede om steun te werf vir die verkiesing.
Die VF Plus is gekant teen die besluit om onwettige informele nedersettings en townships wettig te verklaar. Dit kan lei tot meer onwettige grondgrype.
Informele nedersettings soos Msholozi en Mataffin het oorspronklik ontstaan deur onwettige grondgrype.
Die munisipaliteit beplan tans om R47 miljoen oor die volgende drie jaar aan kraginfrastruktuur in Msholozi te bestee.
Die burgemeester beweer dat die munisipaliteit nou belasting sal kan invorder vanaf hierdie gemeenskappe vir dienste wat die munisipaliteit aan hulle wil verskaf.
Die werklikheid is egter dat hierdie tipe nedersettings nie bekend is as getroue betalers vir dienste nie.
Belastingbetalers gaan nou miljoene rande moet opdok vir infrastruktuur in hierdie nedersettings waar die geld nooit herwin sal word nie.
Uitstaande munisipale skuld sal eenvoudig verskuif word na die middelklas van Mbombela, waarvan 'n groot hoeveelheid uit swart kiesers bestaan. Dit sal ironies genoeg eerder hierdie kiesers van die ANC vervreem.
Die verskuiwing van miljoene rande se skuld na die middelklas sal 'n wesenlike negatiewe effek hê op die belastingbasis en dus ook op enige ontwikkelingsfondse.
Die burgemeester moet eerder fokus op die huidige vervalle infrastruktuur weens ‘n gebrek aan instandhoudingswerk.
Hierdie is weer ‘n bewys tot watter uiterstes die ANC sal gaan om in beheer van Mbombela te bly.
Inwoners verdien beter as die ANC.