fbpx
Vryheidsfront Plus

Werkloosheidskoers kwartaal na kwartaal hoogste ooit

"Suid-Afrika se jongste werkloosheidskoers van 32,5% is weereens die hoogste sedert Statistiek SA (SSA) in 2008 met sy kwartaallikse werksmagopname begin het," sê Heloīse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van arbeid.

"Nuwe rekord-laagtepunte wat werkloosheid aanbetref, word nou kwartaal na kwartaal aangeteken.

"Alhoewel die aantal werkende mense in Suid-Afrika toegeneem het, het die aantal werkloses ook toegeneem. Soveel so dat die werkloosheidskoers met 1,7% tussen die derde en vierde kwartale van 2020 toegeneem het.

"Die Covid-19-pandemie en die gevolglike nasionale inperking met die vele uitdagings wat daarmee gepaard gegaan het, kan ook nie ten volle die skuld vir hierdie skokkende werkloosheidsyfers kry nie, aangesien dit reeds skerp aan die styg was voor die aanvang van die pandemie.

"Die daling van die uitgebreide werkloosheidsyfer met 0,5% tot 42,6% van ontmoedigde werksoekers en ander wat weens die inperking nie werk gesoek het nie, kan wel aan die stelselmatige opheffing van die inperkingsregulasies toegeskryf word.

"Baie mense kan nou weer werk en begin om werk te soek.

 

"Wat egter uiters kommerwekkend is van hierdie syfer, is dat die aantal ontmoedigde werksoekers in die land volgens SSA met sowat 235 000 toegeneem het."

 

"Hierdie mense is nou afhanklik van die staat en baie maak staat op die maatskaplike verligtingstoelae van R350 van die departement van maatskaplike ontwikkeling. Hierdie toelaag het ‘n beperkte leeftyd en is onvolhoubaar.

"Suid-Afrika het ‘n welsynstaat geword waar meer mense van maatskaplike toelae afhanklik is wat daar mense is wat werk. Dit is ‘n onvolhoubare situasie wat tot verskeie ander sosio-ekonomiese probleme soos armoede, misdaad en druk op die gesondheidsorgstelsel sal lei.

"Werkloosheid in Suid-Afrika sal waarskynlik kwartaal op kwartaal in 2021 verder toeneem weens verskeie faktore, waaronder die aanpassing van die nasionale minimumloon vir plaas- en huiswerkers, asook die regering se behandeling van privaatsektor-werkgewers.

"Die verhoging van die nasionale minimumloon vir plaaswerkers van sowat 16% en huiswerkers van sowat 23%, sal onafwendbaar tot verdere werksverliese lei.

"Baie werkgewers van veral huiswerkers, is self werknemers wat gebuk gaan onder verkorte werkure en afleggings weens die pandemie en die swak stand van die ekonomie.

 

"Landbouwerkgewers sal nie noodwendig ‘n onmiddellike verhoging van 16% in hul salarisrekeninge kan bekostig nie en sal noodgedwonge ook afleggings moet doen."

 

"Die ANC-regering sal moet erns maak met die belangrikheid van die privaatsektor as die grootste werkskepper in die land. Dié sektor moet ondersteun word in stede daarvan om voorgehou te word as die sondebok vir alles wat verkeerd gaan in die arbeidsmark.

"Dit is nie nou die tyd vir politiekery met die oog op die komende plaaslike regeringsverkiesing nie. Dit is tyd om die ekonomie en werkskepping te stimuleer," sê Denner.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.