Die VF Plus gaan die ouditeur-generaal (OG) versoek om ondersoek in te stel na beweerde wanbestuur by die Matlosana-varsproduktemark om te verseker dat plaaslike gemeenskappe nie ontneem word van noodsaaklike vars voedsel weens wanbestuur deur die ANC-beheerde munisipaliteit nie.
Die party het klagtes ontvang van mark-agente en boere wie se handelsbedrywighede reeds vir maande belemmer word weens laat betalings vir hul produkte deur die mark.
Die varsproduktemark lewer ‘n groot bydrae tot die ekonomie van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit wat die dorpe Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney en Stilfontein bedien.
Die mark word beheer deur die munisipaliteit en verskaf vars voedsel aan die Noordwes-provinsie asook gedeeltes van die Vrystaat en Gauteng.
Betalings vir produkte by die mark vind hoofsaaklik in kontant plaas en dit is daarom onverklaarbaar en onaanvaarbaar dat die mark nie meer tydig sy verpligtinge teenoor sy verskaffers kan nakom nie.
Agente het tradisioneel hul betalings binne ‘n dag ontvang soos dit die norm by varsproduktemarkte is.
Die gevolg van hierdie stand van sake is dat verskaffers nou toenemend gedwing word om hul produkte elders te verkoop.
Dit het ‘n direkte negatiewe impak op plaaslike gemeenskappe wat afhanklik is van informele kleinhandelaars vir hul daaglikse verskaffing van vars produkte. Hierdie kleinhandelaars het nie die finansiële vermoë om hul aankope in stede te doen nie.
Die ekstra vervoerkoste sal ook die pryse van hierdie produkte die hoogte laat inskiet en vars voedsel onbekostigbaar maak vir ‘n groot deel van die gemeenskap.
Navrae: 082 443 5569.