"Die staatskoffers is leeg en die koek kan nie verder verdeel word nie. Die Vrystaatse aansuiweringsbegroting wat vandag gedurende ‘n sitting van die wetgewer ter tafel gelê is, is ontoereikend om die probleme en behoeftes van die mense van die Vrystaat aan te spreek," het Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer gesê.
Wessels het gereageer op die aansuiweringsgebroting van die Vrystaatse LUR vir Finansies, Elzabé Rockmana, Dinsdag in die wetgewer.
Sy sê die onderbesteding van voorwaardelike toekennings deur provinsiale departemente as gevolg van swak beplanning, ‘n gebrek aan behoorlike leierskap en korrekte prioriteite is die oorsaak dat die provinsie R71 miljoen verbeur het.
"Onderbesteding deur sleuteldepartemente, soos die provinsiale departement van landbou teen 31.5% is kommerwekkend. Die landbousektor in die Vrystaat lewer ‘n reuse bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die sektor verseker ook werkskepping vir duisende. Die onderbesteding deur hierdie departement moet dringend aangespreek word. Die landbousektor in die provinsie moet gestimuleer en uitgebou word. Die addisionele R13.5 miljoen wat aan die departement toegeken is vir droogtehulp is onvoldoende.
"Terwyl die departement van die premier ‘n verdere R74 miljoen kry, moet die departement van gesondheid R22 miljoen inboet. Dit is ‘n duidelike bewys van die ANC-regering se verkeerde prioriteite.
"Befondsing word van provinsiale gesondheidsdepartemente weggeneem om die ANC se Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te befonds, terwyl die Vrystaat feitlik met ‘n humanitêre gesondheidskrisis op grondvlak sit. Dit is nie toevallig dat politieke mooi broodjies, soos die NGV so kort voor die nasionale verkiesing gebak en befonds word nie. Eweneens die addisionele befondsing wat aan die premier toegeken word vir sogenaamde beurse.
"Die beperkte inkomste van die Vrystaat kan nie verder verdeel word om al die probleemareas in die provinsiale departemente en munisipaliteite aan te spreek nie.
"Die invordering van provinsiale inkomste, tesame met ‘n onvoldoende toedeling van fondse deur nasionale tesourie en voorwaardelike toekennings wat weens wanbestuur verbeur is, is nie genoeg om aan die reuse behoefte van hulpbronne en befondsing in die provinsie te voorsien nie.
"Die VF Plus kan nie hierdie ontoereikende begroting ten gunste van die ANC se verkeerde prioriteite ondersteun nie. Dit is nie tot voordeel van die mense van die Vrystaat nie en is onaanvaarbaar.
"Geen begroting kan die Vrystaat red terwyl die ANC-regeer nie, " het Wessels gesê."