"Die student van die Universiteit van die Vrystaat wat verlede Vrydag in stille protes rommel opgetel het wat mede-studente in EFF-kleure rondgestrooi het, het ‘n kragtige vertoning gelewer oor die verskil tussen opbouers en afbrekers in Suid-Afrika," het Wouter Wessels, VF Plus, Dinsdag in 'n lidverklaring in die parlement gesê.
Hier volg Wessels se verklaring:
Die videogreep waarin die student, Eckard Binding, rommel optel wat twee EFF-lede herhaaldelik uit ‘n vullisdrom op die grond gooi tydens studente-protes, maak wêreldwyd opslae en is teen vanoggend reeds meer as 1,5miljoen keer net op Facebook gekyk.
Die VF Plus vind Binding se optrede lofwaardig. Dit getuig van karakter, integriteit en die behoefte om orde te skep teenoor vernielsug.
Daar is partye in die parlement en elemente in die land wat strewe na anargie en geweld en wat geen behoefte het om op te bou, te herstel of om volle gelykheid en ‘n beter Suid-Afrika te skep vir al die mense wat in die mooi land woon nie.
Anargie het vele gesigte. Dit manifesteer op die wyse soos in die videogreep waar EFF-ondersteuners van mening is hulle stuur ‘n sterk boodskap uit deur rommel te strooi en ‘n ordelike student te verneder.
Die enigste boodskap wat hulle egter oordra, is dat hulle nie kan regeer nie en nie verstaan wat ware leierskap behels nie. Die optrede van parlementslede van die EFF in die parlement, ook vandag, is ‘n goeie weerspieëling van die studente se swak gedrag.
‘n Ander vorm van anargie is die blatante korrupsie van die regerende party en die wyse waarop die staatskas totaal en al leeg gesteel word. Die verval van plaaslike regering, bestuur en infrastruktuur het die land op sy knieë gedwing. Dit stel die ANC gelyk aan die EFF.
Suid-Afrika het meer opbouers soos Eckard Binding nodig om standpunt in te neem teen anargiste soos die EFF, om karakter te toon en om ‘n beter Suid-Afrika vir almal te skep deur harde werk en die handhawing van wet een orde.
Net een persoon het stilweg ‘n klipharde boodskap aan Suid-Afrika en die wêreld gestuur: Anargie mag nie toegelaat word om oor ordelikheid te seëvier nie.