"Die Wetsontwerp oor die Padongelukke Voordeleskema sluit aan by ‘n ander “noodlottige ongeluk” en is die eerste wetgewing wat onteiening sonder vergoeding effektiewelik gaan toepas. Dit sal in lyn wees met die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie wat Suid-Afrika wil verander in ‘n kommunistiese staat met totale mag in die hande van die regering,"
So het Anton Alberts LP, VF Plus-voorsitter, tydens die tweede lesingsdebat Dinsdag oor die wetsontwerp gesê.
"Waar die regering wel ‘n belangrike rol moet speel, soos om dekking te bied aan slagoffers en naasbestaandes van padongelukke, was hy self daarvoor verantwoordelik dat die huidige Padongelukkefonds (POF)-stelsel op die berugte ANC-pad vol slaggate en korrupsie ontspoor het.
"Nou wil die regering sy mislukking regmaak deur die POF te vervang met die Padongelukke Voordeleskema wat slagoffers hul regte sonder vergoeding gaan ontneem, en wel op die volgende wyses:
"Eerstens ontneem die skema die gemeenregtelike regte om te eis teen enige skuldige party in 'n ongeluk. Dit bied inderdaad 'n vrypas aan diegene wat roekeloos ry.
"Tweedens bied dit op 'n verraderlike en irrasionele wyse regte aan diegene wat roekeloos op paaie optree – soos 'n dronkbestuurder – weens die sogenaamde “skuldlose-beginsel” wat hulle ook die reg sal gee om te eis in 'n ongeluk wat hulle self veroorsaak het. Dit ontneem dus die reg van padgebruikers tot 'n veilige padomgewing.
"Dit onteien ook die regte van persone in die hoër inkomstegroep om deel te neem aan die skema in teenstelling met die huidige posisie waar hulle van die POF kan eis.
"Verder onteien dit die reg om eie mediese sorg te kies en almal word aan 'n staatsbestuurde proses van mediese sorg onderwerp. Indien die skema slegs mediese sorg deur middel van die openbare gesondheidstelsel goedkeur, sal eisers slagoffers word van die konsentrasiekampe bekend as openbare hospitale en klinieke.
"Langdurige lewensversorging word ook onteien. Die skema sluit persone bo 60 jaar uit. Dis hoe die ANC dankie sê aan die land se senior burgers.
"Laastens word die reg op regsverteenwoordiging in effek onteien en eisers word oorgelaat aan die genade van die skema se funksie en magte as regsverteenwoordiger, besluitnemer en administrateur, in duidelike konflik van rolle en belange," het Alberts gesê.
Hy het ook uitgewys dat ‘n kernprobleem met die wetsontwerp is dat die beplande befondsing van die skema nooit na behore behandel is tydens die komitee-besprekings nie en daar is duidelik verwarring oor die kostes.
"Die definisie in die wetsontwerp van jaarlikse gemiddelde nasionale inkomste strook nie met die koste-berekeninge in die memorandum nie. Verder is die feit dat twee skemas befonds moet word uit die brandstof-heffing, naamlik die bestaande POF en die nuwe skema, verskuil in die memorandum deur onduidelike taalgebruik.
"Motoriste moet daarvan kennis neem dat die brandstofheffing aansienlik sal toeneem weens die geld wat nodig is vir beide fondse. Dit sal minstens twee generasies neem om die POF uit te faseer. Dit beteken dat brandstofpryse sal aanhou styg. Dit is niks anders nie as 'n ander vorm van onteiening.
"Dit is duidelik dat die ANC nie meer vertrou kan word om hierdie land te regeer nie. Hierdie wetsontwerp gee padgebruikers alle rede om baie bekommerd te wees en dit sal sekerlik in die hof betwis word," het Alberts gesê.