fbpx
Vryheidsfront Plus

Volgehoue korrupsie en wanbestuur in ANC-beheerde plaaslike regerings en dispute met Eskom bedreig landsekonomie

"Die beslaglegging deur Eskom op ‘n rekening van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Welkom, Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg en Virginia) in ‘n poging om uitstaande skuld van R3,4 miljard te verhaal, is weereens ‘n bewys van die omvangryke bedreiging wat voortgesette ANC-beheer van plaaslike regerings en staatsentiteite vir die landsekonomie inhou," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van samewerkende regering.

"Hierdie munisipaliteit wat ‘n ekonomiese sleutelpunt, die Vrystaatse Goudveld, bedien, se skuld by Eskom het sedert 2014 vanaf R372 miljoen toegeneem tot R3,4 miljard ten spyte van talle hofbevele en betalingsooreenkomste. Dit is onaanvaarbaar dat hierdie skuld, wat rente en eensydig ingestelde boetes insluit, toegelaat is om tot so ‘n enorme bedrag aan te groei terwyl betalende inwoners ly onder die voortslepende dispute tussen die munisipaliteit en Eskom.

"Hierdie situasie is nie beperk tot Matjhabeng nie, maar is ‘n landwye tendens.

"Die feit dat selfs hofbevele deurlopend geïgnoreer is, dui verder op die skynbare arrogansie van die plaaslike ANC en wat ook reeds lank by klagte van korrupsie en wanadministrasie betrek word.

 

"Hierdie stand van sake lei tot ‘n groeiende weerstand onder wetsgehoorsame inwoners regoor die Goudveld wat nie bereid is om voort te gaan met die befondsing van wanbestuur, korrupsie en die stroping van belastingbetalers se fondse nie."

 

"‘n Totale ineenstorting van hierdie munisipaliteit bedreig nie net die plaaslike ekonomie nie, maar sal weens sy strategiese rol in veral die mynbou- en landbou-sektore, ook ‘n beduidende negatiewe impak op die nasionale ekonomie hê.

"Die nasionale regering moet dringend ingryp om ‘n ramp hier af te weer. ‘n Gebrek aan dringende en effektiewe optrede deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dhlamini-Zuma en haar departement sal neerkom op ernstige pligsversuim wat langtermyn gevolge vir die landsekonomie sal inhou. Sulke optrede moet fokus op realistiese, bekostigbare oplossings wat ten doel het om die voortslepende dispute op te klaar en ook dispute in die toekoms te voorkom.

"Dit is tyd dat die ANC-regering verantwoordelikheid neem en optree teen korrupsie en wanbestuur op alle regeringsvlakke, voordat plaaslike gemeenskappe landswyd reg in hul eie hande neem wat katastrofiese gevolge vir die hele land sal inhou," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Mark Surgeon

Tshwane-metro minag Strukturewet

Die Tshwane-metroraad het gister tydens ʼn raadsvergadering die Munisipale Strukturewet geminag deur ʼn verslag wat handel oor ʼn ANC-raadslid wat ses agtereenvolgende raadsvergaderings nie bygewoon

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.