Die VF Plus wens die matriekklas van 2022 sukses toe met die komende eindeksamen. Selfs belangriker, wens die party hulle ook sukses toe met hul loopbane wat daarop volg.
Matriek is in Suid-Afrika 'n hoogsaangeskrewe eksamen. Selfs wanneer 'n mens nagraadse studies aanpak, of dekades later om 'n betrekking aansoek doen, word matrieksimbole aangevra.
Met die wisselende gehalte van onderwys in Suid-Afrikaanse skole is die eksterne aard van hierdie eksamen van wesenlike belang. Dit skep vertroue.
Vertroue word ook ondermyn deur 'n opvatting dat standaarde laag is.
Dit is belangrik dat matrikulante, werkgewers en die algemene publiek ingelig is oor die verskillende graderings van die Nasionale Senior Sertifikaat (oftewel matriek).
Toelating tot graad-, diploma- of sertifikaatstudies dui op verskillende prestasievlakke. Matriek sonder toelating tot enige van bogenoemde dui op elementêre sukses.
Matrikulante moet besef dat matriek nie die einde van hul opleidingspad moet wees nie, maar 'n belangrike mylpaal daarop.
Die volgende drie maande behels eers die spanning van voorbereiding vir en skryf van eksamens en dan die afwagting om uitslae te ontvang.
Hierdie matriekklas, wie se skooljare sedert graad 10 deur Covid-19 ontwrig is, het nou die geleentheid om hulself te bewys.