Die VF Plus het die menseregtekommissie (MRK) versoek om ondersoek te doen na 'n Twitter-plasing van die EFF se provinsiale leier, Collen Sedibe, waar hy semi-outomatiese gewere vashou.
Sedibe is ook ‘n lid van Mpumalanga se wetgewer.
Die plasing waar Sedibe 'n semi-outomatiese geweer oor sy skouer vashou, se onderskrif (vry vertaal) lees: "Op alle maniere nodig of moontlik is ons gereed @EFFSouthAfrica."
Die duidelike boodskap hiervan is dat die EFF sy lede aanmoedig om gewelddadig op te tree, ook tydens hul beplande nasionale stilstandbetoging op 20 Maart.
Die VF Plus het hieroor 'n klag by die provinsiale wetgewer se etiekkomitee, sowel as by die MRK ingedien.
Die EFF se deurlopende oproepe tot geweld en selfs moord en sy opstoking van rassehaat kan nie langer geduld word nie.
Die VF Plus sal nie toelaat dat geweld teenoor enige groep in Mpumalanga aangehits word nie. Vryheid van spraak moet met verantwoordelikheid gepaard gaan.
Die VF Plus het ook die profiel by Twitter gerapporteer en versoek ander gebruikers om dit ook te doen.