fbpx
Vryheidsfront Plus

Nuwe minister vir vroue wys hoe min vroueregte in Suid-Afrika beteken (Debat in parlement oor Internasionale Vrouedag met die tema: “Jaar van beslissende aksie om vroueregte in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld te bevorder”)

Vroueregte in Suid-Afrika is leë retoriek sonder dade. Die aanstelling van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as nuwe minister vir vroue, kinders en mense met gestremdhede, bewys dit.

As minister van samewerkende regering en tradisionele sake het sy miljoene Suid-Afrikaners in armoede gedompel met haar drakoniese Covid-19-regulasies.

Dan is dit is verstommend om te hoor hoe die ANC-regering hoog opgee om ‘n suksesvolle kampvegter vir vroue te wees gegewe die legio maatskaplike probleme en struikelblokke in vroue se pad.

Die Verenigde Nasies (VN) het Internasionale Vrouedag in 1975 ingestel om jaarliks die prestasies van vroue te eer en te vier en om pogings aan te wend om hulle te bemagtig.

Vanjaar se tema is; “Jaar van beslissende aksie om vroueregte in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld te bevorder”.

Dit is presies waar die ANC-regering tekort skiet. Van “beslissende aksie” is daar nie sprake nie.

Liefdadigheid begin tuis en daar kan met reg gevra word watter “beslissende optrede” die Suid-Afrikaanse regering al geneem het om vroueregte te bevorder.

Die nasionale strategiese plan oor geslagsgeweld en vrouemoord is op 11 Maart 2020 gepubliseer. Dit is waar dit gebly het: Net woorde.

Moord en geweld op vroue neem kwartaalliks teen 'n kommerwekkende tempo toe sonder enige optrede.

Ekonomiese bemagtiging van vroue sluit hierby aan. Suid-Afrika se krimpende ekonomie, ‘n lewenskostekrisis weens swak dienslewering, beurtkrag, bedrog en korrupsie, hoë brandstof- en voedselpryse, werkloosheid en algehele wanhoop kelder enige hoop op bemagtiging.

Die uitgebreide werkloosheidsyfer van die land staan tans op 42,6%, die hoogste ter wêreld. Die wêreldgemiddeld is 6,1%.

Selfs die oorloggeteisterde Somalië se werkloosheidsyfer is bykans die helfte minder as dié van Suid-Afrika. Dit is ‘n verdoemende aanklag teen die regering.

Vroue verdien gemiddeld 25 tot 35% minder as mans vir dieselfde werk. Na al die jare se mooipraat en beloftes oor vroueregte is daar duidelik niks gedoen nie.

Indien die ANC enige erns het oor die bemagtiging van vroue, kan hy dit wys deur dadelik ontslae te raak van die nuwe minister, Dlamini-Zuma. Haar drakoniese Covid-19-regulasies het nie man, vrou of kind ontsien het nie.

Die VF Plus sal op Internasionale Vrouedag hulde bring aan elke vrou en wat ten spyte van die uitdagings op hul pad steeds van die wêreld ‘n beter plek vir almal maak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.