Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom optrede teen toiletpapier-fabriek in die Vrystaat na VF Plus-optrede

"Die VF Plus verwelkom die plaaslike munisipaliteit Moqhaka (Kroonstad, Renovaal, Steynsrus, Vierfontein, Viljoenskroon) in die Vrystaat, se sluiting van die toiletpapier-fabriek wat die Valsrivier en die kerkhof van die gedenkwaardige Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekamp in Kroonstad erg besoedel het," sê Heloïse Denner, VF Plus-LP.

"Die VF Plus het ‘n klag in dié verband by die polisie ingedien en het ook die saak in die parlement geopper waarna die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, Nkosazana Dlamini-Zuma, onderneem het om aandag daaraan te skenk.

"Die munisipaliteit het alle betrokkenes om verskoning gevra vir skade wat gely is. Die Valsrivier se water is ook getoets en dit is glo skoon gevind vir menslike gebruik.

 

"Die VF Plus verwelkom die optrede teen die fabriek, maar betreur dit nogtans dat 'n strafregtelike klag eers ingedien moes word voordat daar opgetree is."

 

"Die Afrikaner se erfenis is vir die VF Plus belangrik. Erfenisbates moet beskerm en opgepas word en die situasie wat op Kroonstad ontstaan het, is totaal onaanvaarbaar aangesien groot skade reeds aangerig is.

"Daar is steeds verskeie plekke in dié munisipale gebied waar riool in die Valsrivier inloop en dit moet stopgesit word. Dit word veroorsaak deur verouderde infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie.

"Die munisipaliteit moet sy eie bywette toepas en moet behoorlike voorkomende instandhoudingswerk doen.

"Die VF Plus sal die situasie monitor en toesien dat die konsentrasiekampkerkhof so gou as moontlik skoongemaak word. Die party sal ook die besoedeling van die Valsrivier monitor en sal voortdurend druk op die munisipaliteit plaas om sy werk behoorlik te doen," sê Denner.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.