Die brandweerwaens van die Madibeng-plaaslike munisipaliteit ondergaan eindelik herstelwerk om die inwoners van Brits, Hartbeespoort en Mooinooi te bedien.
Dit word gedoen in reaksie op ‘n dringende versoek wat die VF Plus op 8 September gerig het aan die burgemeesterskomitee-id vir gemeenskapsveiligheid en vloot-en geriewebestuur, Feni Motepe.
Klagtes oor die stand van die brandweer is onder die VF Plus se aandag gebring en die party het die dringende nood van die situasie ingesien.
‘n Ter plaatse besoek is ook deur die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid en vloot- en geriewebestuur aan die brandweerstasie gebring.
Tydens die besoek het dit duidelik geword dat die meeste van die klagtes gegrond was, met verskeie brandweerwaens en ondersteuningsvoertuie wat buite werking was.
Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas dat ‘n volledige oudit oor die stand van nooddienste in Madibeng gedoen word. ‘n Volledige verslag oor die brandweerstasie asook brandbestrydingsvoertuie en -toerusting is aangevra.
Dit is noodsaaklik dat inwoners die gemoedsrus moet kan hê dat hul nooddienste professioneel bestuur word en spoedig kan reageer in gevalle van nood.
Dit is ‘n skande dat hierdie ANC-beheerde munisipaliteit toegelaat het dat só ‘n sleutel-diensafdeling in die gebied weens ontoereikende onderhoud byna lamgelê is.
Die inwoners van Brits, Hartbeespoort en Mooinooi verdien beter as die ANC.