Die VF Plus kan nie die nuwe distriksontwikkelingsmodel (DDM) of die sogenaamde “eenplan-model” vir die Ekurhuleni-metro steun nie.
Alhoewel munisipaliteite wetlik verplig word om daaraan te voldoen, kan daar nie weggeskram word van die feit dat dit ʼn duur burokratiese duplisering van die bestaande beplanningsraamwerk vir munisipaliteite is nie.
Dit is ʼn meganisme vir die sentralisering van mag weg van plaaslike regering en die model het ʼn bewese rekord van mislukking in loodsmunisipaliteite soos die Waterberg-distriksmunisipaliteit en die eThekwini-metro.
Die DDM het nie die kernkwessies van wanadministrasie, korrupsie en onbevoegdheid in dié munisipaliteite opgelos nie. Dit het bloot nog ‘n laag wanfunksionele burokrasie bygevoeg. Ekurhuleni kan nie gedwing word om hierdie pad van bewese mislukking te volg nie.
Die instelling van die DDM in Ekurhuleni gaan lei tot onnodige duplisering van administratiewe pogings, vergaderings en verslagdoening, wat skaars munisipale hulpbronne, tyd en kundigheid gaan weglei van werklike dienslewering. Die bewering dat daar “geen finansiële implikasies” sal wees nie, is oneerlik.
Die implementering van hierdie model sal onvermydelik ‘n beduidende finansiële las op die munisipaliteit en sy inwoners plaas. Die model is ontwerp om die rol van provinsiale en nasionale departemente te versterk ten koste van plaaslike regering se outonomie.
Die DDM is die teenoorgestelde van ware plaaslike regeringsontwikkeling en die kommer bestaan dat die ANC die model wil gebruik om beheer te verkry oor munisipaliteite waar hy nie in beheer is nie.
Die druis ook direk in teen die VF Plus se beleid van sterk, onafhanklike plaaslike regerings wat mag en besluitneming so na as moontlik aan die gemeenskap bring.
Die VF Plus verwerp die DDM en eis die desentralisering van munisipaliteite, verantwoordbaarheid, behoorlike dienslewering en gemeenskapsbetrokkenheid.


