Die vierde kwartaalverslag vir die 2024/25-finansiële jaar beklemtoon weereens die verval van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging).
In die verslag gryp die munisipaliteit na strooihalms en ʼn sogenaamde omkeerplan, maar die realiteit is dat so ‘n plan nie haalbaar is nie.
In stede daarvan om te probeer om die munisipaliteit se finansies te stabiliseer, wil Emfuleni staatmaak op onrealistiese inkomsteprojeksies om die ineenstorting weg te steek.
Die verslag erken wel dat finansiële volhoubaarheid, diensleweringsagterstande en bestuursprobleme ’n hoë risiko vir die munisipaliteit se toekoms inhou.
Vir inwoners beteken dit dreigende diensonderbrekings, verdere verval van infrastruktuur en voortgesette ekonomiese stagnering in die Vaaldriehoek.
Die sogenaamde prestasieverbeterings in die verslag is oppervlakkig en spreek nie die diepgewortelde strukturele probleme van die munisipaliteit aan nie.
Diensleweringsprobleme wat dadelik aangespreek moet word, is:
• Die verouderde krag, water- en sanitasie-infrastruktuur wat lei tot gereelde rioolstortings, watertekorte en kragonderbrekings.
• Slaggate en vervalle paaie.
• Die uitrol van voorafbetaalde kragmeters moet voortgaan, maar met die nodige konsultasie met inwoners. Alhoewel inwoners nou hul kragrekeninge direk aan Eskom betaal, is die maatskappy, BXC-kontrakteurs, steeds verantwoordelik vir die installering van voorafbetaalde meters.
• Senior bestuursposte wat tans vakant is of in waargeneem word, moet met gekwalifiseerde en bevoegde amptenare gevul word om stabiliteit in die administrasie te bring.
• Swak interne beheer en gebrekkige toesig wat die deur ooplaat vir korrupsie en die vermorsing van belastingbetalersgeld moet aangespreek word.
Die VF Plus het al herhaaldelik gewaarsku dat Emfuleni onder ANC-beheer onredbaar is.
Die vierde kwartaalverslag bevestig hierdie werklikheid.
Sonder dringende ingryping van ʼn nuwe regering, sonder die ANC, gaan inwoners aanhou ly onder korrupsie, onbekwaamheid en wanbestuur.


