fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus loods fonds as teenvoeter vir Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB)

Die VF Plus het vandag ‘n omvattende projek as teenvoeter vir Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) bekendgestel.

Die projek behels onder andere 'n fonds wat hulp bied aan klein sake-ondernemings wat weens SEB-vereistes nie staatshulp ontvang nie.

Die VF Plus-jeug het ook as deel van die projek 'n inisiatief begin om die fokus te plaas op die huidige ongeregtighede wat SEB tot gevolg het. Honderde video’s is reeds van die eienaars van kleinsake-ondernemings van regoor die land ontvang wat hul nood en omstandighede daarin verduidelik.

Hierdie verhale skets die rampspoedige gevolge vir vele ondernemings wat weens SEB nie ramphulp ontvang nie. Dit vertel die stories van entrepreneurs wat hard gewerk het om hul ondernemings op te bou en wat nou nie hul werknemers kan betaal of ander verpligtinge kan nakom nie.

Die VF Plus is gekant teen rasgegronde wetgewing en is van mening dat velkleur nie gebruik kan word as ‘n veralgemeende aanduiding van minderbevoorregting nie. Daarom moet velkleur nie as voorwaarde vir bemagtiging geld nie.

 

Mense en ondernemings wat volgens enige middeletoets vir hulp kwalifiseer en die potensiaal toon om te presteer, word op rassegronde oorgesien.

 

Daar is talle kleiner sake-ondernemings soos eenmansake wat nie aan die vereistes van SEB kan voldoen nie. Dit is ongeag ras opgebou uit entrepreneurskap tot voordeel van die totale ekonomie en werkskepping en is in menige gevalle die eerste trap na groter ondernemerskap.

Bankrotskap en ondergang staar baie van hierdie ondernemings tans in die gesig en indien hulle post Covid-19 van die toneel verdwyn, sal dit ‘n gevoelige terugslag vir die kans op spoedige ekonomiese herstel wees.

 

Daarom het die VF Plus die “Stop BEE”-projek tesame met die Huidig Benadeelde Besigheidsfonds (HBB-fonds) geloods.

 

Die HBB-fonds samel skenkings in om klein sake-ondernemings te help wat nie vir staatshulp kwalifiseer ingevolge SEB nie. Dit sal ook ‘n databasis en ondersteuningsnetwerk skep vir dié ondernemings.

Die fonds sal aanvanklik fokus om as waarborg te dien vir sagte lenings aan ondernemings in die skoonheid- (haarsalonne, naelsalonne, ens.), gasvryheid- (gastehuise, troulokale, ens.) en tuindienstesektor.

Nadere besonderhede ten opsigte van die kriteria en aansoekproses, sal eersdaags bekend gemaak word. Die fonds sal die lenings toeken in samewerking met ‘n geregistreerde finansiële instelling.

Die langtermyn-doelwit van die platform is ook om post Covid-19 as stimulus te dien vir kleinsake-ontwikkeling.

Die projek se doel is ook om persone wat weens rasgegronde wetgewing benadeel word, se verhale en die gepaardgaande gevolge daarvan te vertel en om dit onder die groter publiek se aandag te bring.

Die projek gaan gepaard met ‘n griefskrif wat by www.stopbee.co.za ondersteun kan word.

Persone en instansies word aangemoedig om tot die HBB-Fonds by te dra deur die webwerf www.hbbf.co.za te besoek.

Te midde die geweldige krisis, is dit tyd vir aksie en tyd om saam te staan teen diskriminasie en vir ‘n beter toekoms waar gelyke geleenthede geld.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.