fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus in JB Marks stem teen aanvaarding van jaarlikse begroting

Die VF Plus in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Venterdorp) het vandag tydens ‘n raadsvergadering teen die aanvaarding van die voorgestelde jaarlikse begroting gestem.

Dit was nadat die VF Plus vroeër verskeie leemtes en probleme in die konsepbegroting uitgewys het in ‘n skriftelike voorlegging aan die speaker van die raad.

Met vandag se sitting is opnuut daarop gewys dat die munisipaliteit nie kan verwys na ‘n ten volle befondsde begroting, maar terselfdertyd meld dat daar ‘n begrotingstekort van R168 miljoen is nie. Die VF Plus het ook beswaar aangeteken teen die voorgestelde tariefverhogings van tot 6%.

Met die negatiewe impak van Covid-19-inperkings, sal hierdie verhogings huishoudings en sake-ondernemings onder groter finansiële druk plaas.

Alhoewel die burgemeester, Mapule Mataboge, in haar rede gemeld het dat hard gewerk moet word om die gemeenskap se vertroue terug te wen, kon sy op ‘n vraag van die VF Plus met geen konkrete voorstelle vorendag kom oor hoe die munisipaliteit beplan om dit reg te kry nie.

Inwoners ly reeds lank onder swak dienslewering en wanbestuur in hierdie ANC-beheerde munisipaliteit. Infrastruktuur stort in duie en lei tot verdere vermorsing van onder meer water wat weens gebarste pype in strate afstroom.

Paaie is vol slaggate wat inwoners dwing om self instandhouding te doen, terwyl gereeld berig word oor korrupsie, diefstal en bedrog ter waarde van miljoene rand van munisipale fondse in JB Marks.

Die VF Plus het daarop aangedring dat fondse geherprioritiseer word om die verdere verval van bestaande infrastruktuur te keer en om te verseker dat voldoende infrastruktuur ontwikkel word vir nuwe ontwikkelings.

Die VF Plus het ook inligting versoek oor die stand van ondersoeke en die vervolging van diegene wat hulle skuldig maak aan finansiële oortredings in die munisipaliteit.

Die kiesers van Potchefstroom en Ventersdorp moet in die komende verkiesing saam met die VF Plus saamstaan en opstaan, en met hul stemme verseker dat die ANC in JB Marks ontsetel word. Inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp verdien verteenwoordigers in die raad wat hul vertroue waardig is.

Navrae: 082 415 8628

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.