fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus in België om UNPO te vra om op te tree teen plaasmoorde en die vertrapping van Afrikaans

Gemeet aan internasionale norme kan plaasmoorde in Suid-Afrika met reg as ‘n volksmoord bestempel word, en die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie moet die ANC-regering nou dwing om dringende stappe te neem om dit stop te sit.

Dit is een van die dringende versoeke wat ‘n afvaardiging van die VF Plus hierdie week in twee mosies gaan rig aan die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) in Brussels, België.

Naas ‘n voorlegging oor plaasaanvalle en plaasmoorde, gaan die VF Plus die organisasie ook vra om kennis te neem van die vertrapping en stelselmatige ‘uitwissing’ van Afrikaans veral in die onderwysstelsel, wat basiese en hoër onderrig insluit.

Dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus, en mnr. Wouters Wessels, nasionale jeugleier, is tot Vrydag in Brussels waar hulle UNPO volledig oor hierdie aangeleenthede gaan inlig.

Die VF Plus sal Vrydag ‘n volledige verklaring met die inhoud van die onderskeie mosies uitreik.

Hierdie jongste optrede van die VF Plus volg op ‘n besoek van sy leier, dr. Pieter Mulder, einde 2014 aan UNPO en die VN in Genève, waar die internasionale gemeenskap ook ingelig is oor plaasmoorde, Afrikaans, regstellende aksie (RA) en ander vergrype teen minderhede in die land.

In November 2013 het die VF Plus in samewerking met UNPO ‘n internasionale konferensie by die parlement in Kaapstad aangebied waar groepsregte en selfbeskikking onder meer bespreek is. Bekendes in akademiese kringe, asook verskeie vooraanstaande leiers in die bruin en Khoisan-gemeenskappe, het die suksesvolle konferensie bygewoon.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 082 674 6670 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.