Die VF Plus is gekant teen die beplande P166-snelweg wat die toeristedorp Witrivier in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier) effektief in die helfte sal verdeel.
Die party steun die Witrivier-belastingbetalersvereniging wat aanvoer dat die ontwikkeling van padinfrastruktuur meer 'n behoefte aan die oostekant van die dorp is, terwyl die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) 'n westelike pad voorstel.
Hierdie vierbaanpad sal deur 'n beskermde vleiland in Colt's Hill sny waar 'n kritiek bedreigde aalwyn (Aloe simii) groei.
Ekologiese impakstudies kon nog nie met sekerheid aandui wat die effek van die padinfrastruktuur op die omgewing sal wees nie. Tot dusver kon die aalwyn ook nie suksesvol elders gekweek word nie.
Die beplande roete sal by die verkeersirkel by Casterbridge op die R40 (noord van Witrivier) begin, deur die noordelike dele van die dorp sny, deur die Heidelvallei en wes verby Penryn Kollege, en uiteindelik met die R40 en N4 bo Riverside in Mbombela/Nelspruit inskakel.
Volgens 'n onafhanklike studie wat deur Sanral aangevra is, is daar verskeie kritieke waterbronne wat negatief deur die pad beïnvloed sal word.
Die uitgangspunt waarop Sanral die ondersoek na die behoefte en wenslikheid van 'n westelike verbypad benader het, word saamgevat in 'n konsepverslag.
Dit lui dat verkeersvooruitbeplanning glo dui op hoë verkeersvolumes in die toekoms op beide die N4 en R40.
Die VF Plus is van mening dat die geld eerder aangewend moet word om die bestaande toerismeroetes rondom die munisipaliteit te herstel en op te gradeer.