Die VF Plus as deel van die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM) se koalisieregering is reeds besig om sy strategiese regeringsplan in werking te stel om die metro se somber ouditverslag vir die 2021/2022-finansiële jaar om te keer.
Amptenare moet verantwoordelik gehou word vir swak dienslewering.
Die NMBM is met die ouditeur-generaal (OG) se 11de gekwalifiseerde ouditmening nie beter af nie aangesien R362 miljoen uit voorwaardelike toelaes nie bestee is nie, R1,4 miljard se onreëlmatige uitgawes aangegaan is en daar geen behoorlike rekord van munisipale bates was nie.
Die inkomsteverlies van R609 miljoen vir kragverkope word veroorsaak weens wydverspreide diefstal en wanbetaling.
Die koalisie het om hierdie kragverliese te beperk en te voorkom, ‘n suksesvolle amnestietydperk tot einde Januarie ingestel waar alle inwoners wat onwettig krag gebruik of aan hul meters gepeuter het, dit kon aanmeld en gevrywaar is.
Substasies word opgerig by informele nedersettings en huise word toegerus met voorafbetaalde kragmeters om te verhinder dat krag onwettig verkry word van ‘n ander gebied.
Kabeldiefstal is ook as prioriteit verklaar in samewerking met die metro se veiligheids- en sekuriteit-direktoraat, die polisie en buurtwagte.
Die verslag wys ook dat genoeg water om die Churchill- en Groendal-damme byna te vul gedurende die boekjaar verlore gegaan het.
Die 40 657 megaliter vermorste water ter waarde van R219 miljoen is effens minder in vergelyking met die 2020/2021-boekjaar.
Die huidige omkeertyd vir die herstel van waterlekkasies is sewe dae, maar die VF Plus is besig om druk op die departemente van infrastruktuur en ingenieurswese en water en sanitasiete te plaas om waterlekkasies binne 24 uur te herstel.
Vandat die nuwe koalisieregering die laaste vier maande die metro oorgeneem het, is die agterstand met diensleweringskwessies, wat die vorige ANC-koalisieregering agtergelaat het, met sowat 60% verminder.
So is daar met ‘n proses begin om al die geld wat bestee is te hersien om onreëlmatige uitgawes te verminder.
‘n Stelsel wat op die oomblik ontbreek om die metro se prestasie akkuraat te meet op grond van sleutelaanwysers, gaan ook ingestel word.
Die metro het die afgelope ruk ook daarin geslaag om die gemiddelde omkeertyd vir die verwerking van residensiële bou-aansoeke vir 500m² of kleiner tot 14 dae te verminder.
Die gemiddelde omkeertyd om sakelisensie-aansoeke te finaliseer, is 4,86 werksdae.
Daar is geen twyfel nie dat die VF Plus en sy koalisievennote oor die politieke wil beskik om die NMBM om te keer en suksesvol te bestuur tot voordeel van al sy inwoners nie.