Die balju het op 30 Januarie vanjaar beslag gelê op sewe voertuie van die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit (Theunissen, Brandfort, Verkeerdevlei en Winburg) weens uitstaande skuld.
Die beslagleggingsbevel volg nadat Masilonyana vir ‘n geruime tyd nie sy skuld aan HL Pelatona-kontrakteurs en die Munisipale Werkers Aftreefonds (MWA) betaal het nie.
Hierdie skuld het gesamentlik opgehoop na meer as R7 miljoen waarvan R4,7 miljoen aan HL Pelatona en R2,3 miljoen aan die MWA verskuldig is.
Die munisipaliteit se totale uitstaande skuld aan verskeie skuldeisers is meer as R285 miljoen.
Hierdie R7 miljoen wat die munisipaliteit sewe voertuie gekos het, is slegs ‘n gedeelte van die munisipaliteit se uitstaande skuld waaronder R143 miljoen net aan Eskom alleen verskuldig is.
Van die sewe voertuie wat die balju op beslag gelê het, is onder meer ‘n vullisverwyderingstrok. Die beslaglegging op hierdie soort voertuie beteken dat Masilonyana nie in staat is om basiese dienste aan inwoners te lewer nie.
Dit is net nog ‘n klap in die gesig van inwoners wat algehele swak dienslewering moet verduur omdat die munisipaliteit groter probleme het om te hanteer.
Daar is geen senior bestuur wat noodsaaklike besluite kan maak nie, geen beskikbare fondse nie, ‘n tekort aan diensvoertuie en vakante poste wat nie gevul word.
Die inwoners van Masilonyana verdien beter as die ANC.