Die VF Plus verwelkom die uitspraak van regter Raymond Zondo in die grondwethof wat bevestig dat die ANC-regering se uitvoering van die Toerisme-ekwiteitsfonds tydens die Covid-19-pandemie onwettig en rassisties was.
Die uitspraak volg op ‘n poging tot appèl deur die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu en haar departement, teen ‘n vroeëre hofuitspraak.
In dié uitspraak is ook beslis dat die rasgegronde kriteria vir bystand aan toerisme-ondernemings tydens die pandemie onwettig en rassisties was.
Dié uitspraak, tesame met die debakel om SA Toerisme (SAT) se sokkerborgskap van R1 miljard wat verlede week ontbloot is, bevestig opnuut dat die ministerie van toerisme nie sy mandaat en oorsigrol doeltreffend vervul nie.
Die VF Plus het reeds in 2022 verklaar dat die ministerie van toerisme oorbodig is en geen nut vir Suid-Afrika het nie.
Dit is nou duidelik dat die optrede van die ministerie nie net ‘n risiko vir die land inhou nie, maar ook ‘n groot verleentheid vir alle Suid-Afrikaners geraak het.
Die ministerie van toerisme behoort as ‘n prioriteit en in die belang van die land afgeskaf te word.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.