Die VF Plus het die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Oupa Khoabane, versoek om dringend in te gryp en oplossings te vind vir die voortslepende rioolprobleme in Brandfort.
Moerasse rou-riool lê vir maande reeds in die veld van die Staatspresident Swart Skool op die dorp, ten spyte van talle klagtes van inwoners en die VF Plus-raadslid in die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit se gesprekke met die munisipale bestuur.
"Die riool wat ook deur die perseel van die gevangenisdiens op die dorp vloei, is ‘n ernstige gesondheidsgevaar vir inwoners,"sê Tammy Wessels, VF Plus-LPw in die Vrystaat.
"Die voortslepende probleem word nie aangespreek nie en inwoners is die slagoffers van die ANC se apatie teenoor dienslewering.
"Die departement moet dringend verantwoordelikheid neem en oplossings implementeer, aangesien Masilonyana steeds onder Artikel 139-administrasie deur die Vrystaatse regering is.
"Die ANC het beheer oor Vrystaatse munisipaliteite verloor weens sy beleid om kaders te ontplooi in kritieke diensleweringsposte.
"Die VF Plus slaan terug teen swak dienslewering. Inwoners van Masilonyana en die res van die provinsie het in 2019 ook die geleentheid om te stem vir ‘n party wat nie skroom om die ANC verantwoordelik te hou vir sy diensleweringsmislukkings nie," sê Wessels.