Die VF Plus het gedurende die pas afgelope vergadering van die Metsimaholo-plaaslike munisipaliteit (Deneysville, Kragbron, Oranjeville, Sasolburg) se tegniese komitee daarop aangedring dat ‘n reuse watertenk gebruik word om die waternood op Oranjeville te verlig.
Die tenk het ‘n kapasiteit van meer as 100 000 liter en moet onmiddellik aan die waternetwerk van Oranjeville gekoppel word om die nodige verligting aan inwoners te verskaf.
Die munisipaliteit het dié watertenk voor die aanvang van die Covid-19-pandemie vir Oranjeville en omliggende gebiede aangekoop, maar dit staan in onbruik terwyl inwoners met die onlangse versengende hittegolf sonder water moes klaarkom.
Oranjeville, Zonke en Phahameng gaan onder ‘n geweldige waterkrisis gebuk.
Zonke en Phahameng, die informele nedersettings naby Oranjeville, is reeds vir agt maande sonder water, terwyl Oranjeville vir die afgelope vier weke geen lopende water het nie.
Die munisipaliteit beplan egter om eers teen April vanjaar konsultante aan te stel voordat kontrakteurs aangestel kan word wat die watertenk aan die waternetwerk sal koppel.
Dit is onaanvaarbaar dat die proses so lank uitgerek word terwyl inwoners onder watertekorte ly.
Toegang tot voldoende water is ‘n grondwetlike reg wat aan elke inwoner gewaarborg word.
Die munisipaliteit se versuim om nie alles in sy vermoë te doen om uitvoering aan hierdie reg te gee nie, is ‘n skande.