Die VF Plus het in 'n skrywe aan die burgemeester van die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit, me. Khethiwe Moeketsi, antwoorde geëis oor die stand van die munisipaliteit se administrasie en dienslewering.
Die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad, Grootvlei) is ‘n toonbeeld van swak infrastruktuurinstandhouding en inwoners ly weens die swak munisipale bestuur.
Skoon water wat in strate afloop is ‘n duidelike bewys dat herstelwerk aan waterinfrastruktuur nie gedoen word nie.
Rioolbestuur is ‘n krisis. Dit veroorsaak geweldige gesondheidsrisiko’s vir inwoners en besoedel natuurlike hulpbronne in die gebied.
Tot op hede weier die munisipale bestuur om saam met die plaaslike raad te werk.
Geen terugvoer aangaande die probleme word aan die VF Plus verskaf nie.
Sogenaamde gemeenskapsterugvoering-vergaderings word op kort kennisgewing afgekondig en op ongerieflike tye geskeduleer.
Dit maak dit vir die publiek moeilik om die vergaderings by te woon. Die vergaderings word ook gereeld gekanselleer.
Die VF Plus het 'n vergadering versoek met die burgemeester en munisipale bestuurder, mnr. Lwazi Cindi, om dringend oplossings vir die kwelpunte te vind.
Die party het ook 'n vergadering met die publiek vir 24 Januarie in die stadsaal belê om 'n moontlike samewerkingsooreenkoms met die munisipaliteit te bespreek.
Die VF Plus sal voortgaan om me. Moeketsi verantwoordbaar te hou en sal druk toepas om ‘n keerpunt in die swak dienslewering teweeg te bring.
Die algemene verval en gebrekkige dienslewering in Dipaleseng is direk toe te skryf aan die jare lange onbevoegdheid en korrupsie onder ANC-beheer.
Dit is onaanvaarbaar dat inwoners moet ly onder die ANC se kultuur van selfverryking, korrupsie en swak dienslewering.
Die inwoners van Dipaleseng verdien beter as die ANC.