fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus aanvaar Lesedi se finansiële jaarverslag in beginsel

Die VF Plus het die jongste finansiële jaarverslag van Lesedi-plaaslike munisipaliteit (Devon, Heidelberg, Nigel, Vischkuil) in beginsel aanvaar, onderhewig aan die implementering van die Ouditeur-Generaal se 2018/2019-begrotingsverslag.

Lesedi se 2017/2018-begrotingsjaar was ‘n mengelmoes waarvan slegs ‘n paar doelwitte bereik is, minimale verbetering in basiese dienslewering en ook sommige projekte wat in geheel misluk het en ‘n totale verkwisting van geld meegebring het. Volgens die VF Plus is daar geen basiese dienste gelewer nie en as gevolg van finansiële wanbestuur is infrastruktuur ook nie instand gehou of opgeknap nie.

Die VF Plus vind dit onrusbarend dat personeeluitgawes 23% van die begroting beloop het terwyl net 3% vir algemene instandhouding begroot was. Munisipale tariewe is verhoog alhoewel die werkloosheidsyfer in Lesedi gegroei het van 23% in die 2016/2017-begrotingsjaar tot ‘n uiters kommerwekkende 43% in die 2017/2018-begrotingsjaar.

Die Ouditeur-Generaal (OG) het weereens ‘n ongekwalifiseerde oudit vir Lesedi goedgekeur maar dit duidelik gestel dat die aanhoudende herhaling van negatiewe bevindings vir die volgende begrotingsjare geensins langer geduld sal word nie. Daar moet dringend gesoek word na oplossings vir die herhalende negatiewe bevindings en ooreenkomstige regstellings moet as prioriteit geïmplementeer word.

Die OG se verslag het 51 negatiewe bevindings uitgewys wat onder andere die volgende insluit:

• Basiese dienslewering
• 0% vordering met konstruksie by die Vischkuil-reservoir
• 0% opgradering van die gevaarlike 0.8km pad by Jameson Park
• Slegs 17% voltooiing van die Obed Nkosi-projek (herstel van 1.5km pad en stormwater opgradering)
• Die twyfelagtige lewensvatbaarheid van sommige sosiale- en gesondheidsprojekte

Die verslag is verwys na die komitee vir openbare munisipalerekeninge vir kommentaar en terugvoer aan die raad.

Die VF Plus sal onverpoosd aanhou veg vir belastingbetalers van Heidelberg se regte.

Kontaknommer: 072 547 0481

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.