fbpx
Vryheidsfront Plus

Verval van gemeenskapsgeriewe in Matlosana skokkend

Na ter plaatse besoeke van die VF Plus aan openbare gemeenskapsgeriewe in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein), het die skokkende omvang van die verwoesting en verval van hierdie geriewe weens die laksheid en nalatigheid van die ANC-beheerde munisipaliteit, opnuut geblyk.

Hierdie geriewe sluit onder meer sportkomplekse, die bekende Harry Oppenheimer-stadion en gemeenskapsale in.

Die VF Plus se ondersoek die week het gevolg nadat vandale op heterdaad deur die party betrap is waar hulle items wegdra wat uit die bekende Volkssaal in Stilfontein geplunder is.

By nadere ondersoek is vasgestel dat die plafonne, wasbakke, rioleringspype, krane en elektriese bedrading van die saal reeds gestroop is. Hierdie saal was tot onlangs ‘n gewilde perseel wat deur gemeenskapsorganisasies en inwoners vir sosiale geleenthede en vergaderings benut is.

Die bekende Harry Oppenheimer-stadion naby Orkney was tot voor die Covid-19-inperkings ‘n moderne en gesogte sportgerief waar groot byeenkomste soos sokker, atletiek en musiekkonserte aangebied is. Die stadion het oor die afgelope paar maande onder vandale deurgeloop en is finaal onbruikbaar gelaat weens brandstigting.

In Klerksdorp is die eens goed toegeruste korfbal- en netbalklub ook totaal vernietig en deur vandale gestroop.

Die bekende Westelikes-sportklub se terrein is ook vervalle en munisipale werkers bewoon nou skynbaar die eens trotse klubhuis.

Die munisipale swembad is eweneens in ‘n haglike toestand en word deur palmiet oorgeneem.

Die munisipaliteit se abattoir wat eens aan ‘n privaatonderneming verhuur is, staan na ‘n skynbare korrupsieskandaal reeds vir jare in onbruik. Hierdie gehalte gerief, wat eens ‘n groot bron van inkomste vir die munisipaliteit was, is ook reeds gestroop van alle toerusting en infrastruktuur.

Hierdie skandelike stand van sake is die direkte gevolg van ‘n ANC-beheerde munisipaliteit wat skynbaar nie die vermoë of die wil het om ‘n moderne munisipaliteit tot voordeel van sy inwoners te bestuur nie.

Die skade wat as gevolg van die munisipaliteit se laksheid en nalatigheid aan hierdie gemeenskapsfasiliteite aangerig is beloop miljoene rande. Dit is ironies dat hierdie geriewe sienderoë geplunder word terwyl miljoene rande per jaar bestee word aan sekuriteitsmaatskappye wat veronderstel is om die Matlosana-gemeenskap se bates te beskerm.

Die situasie in Matlosana is nog ‘n skandelike voorbeeld van ‘n mislukte munisipale regering onder ANC-beheer en dít in ‘n munisipaliteit met die kredo “Ontwikkel, Fasiliteer en Groei”.

Die ANC sal in die komende plaaslike verkiesing sien dat gemeenskappe nie weer mislei sal word met mooiklinkende slagspreuke terwyl hulle moet ly onder die gevolge van wanadministrasie, korrupsie en die stroping van gemeenskapsbates nie.

Gemeenskappe moet met hul stemme verenig en verseker dat die bewind van die ANC in plaaslike regering beëindig word om hierdie toenemende verval te stop.

Navrae: 082 443 5569

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.