Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Setsoto-munisipaliteit het geld vir advertensiebord, maar nie dienslewering

‘n Advertensiebord ter waarde van sowat R198 000 wat in die Setsoto-plaaslike munisipaliteit (Ficksburg, Senekal, Marquard, Clocolan) opgerig is met ‘n burgemeestersboodskap om onder meer inwoners aan te moedig om vir munisipale dienste te betaal, is die jongste raaisel in die Vrystaat.

Uit amptelike vrae wat die VF Plus aan die munisipaliteit gerig het oor die bord, is geantwoord dat dié bord ‘n skenking vanaf die provinsiale regering is.

Teenstrydig hiermee het die provinsiale regering dit in ‘n amptelike wetgewervraag van die VF Plus ontken en noem dat sulke aangeleenthede uitsluitlik die verantwoordelikheid van die munisipaliteit is. Die VF Plus is ook in besit van fakture wat aan die munisipaliteit uitgemaak is vir die bord.

Benewens die boodskap om vir dienste te betaal, bevat die advertensie ook ‘n boodskap aan padgebruikers om veilig te reis en veilig te bly tydens die Covid-19-pandemie. Die advertensiebord sal dus na die afloop van die pandemie irrelevant wees en vervang moet word.

Dit is onaanvaarbaar dat fondse van amper R200 000 bestee is aan ‘n enkele advertensiebord wat die huidige burgemeester, Komane Koalane, promoveer kort voor ‘n munisipale verkiesing.

Ironies genoeg wend die munisipaliteit ‘n halfhartige poging aan om munisipale inkomste in te vorder deur hierdie fondse te bestee, terwyl hy geen dienste aan inwoners lewer nie. Sou die munisipaliteit effektief dienste lewer, sal die plaaslike ekonomie groei en munisipale inkomste vanself verhoog.

Die VF Plus sal nie die misleidende antwoord van die voorheen waarnemende munisipale bestuurder in ‘n amptelike Reël 38-vraag daar laat nie en sal dit in die raad opneem. Die VF Plus sal die nodige stappe eis aangesien die waarheid nie – soos in die reëls en ordes bepaal – blootgelê is nie.

Dit is onaanvaarbaar dat daar afgewyk is van die verkrygingsbeleid van die munisipaliteit om die bord op te rig, omdat die korrekte tenderproses nie gevolg is nie. Die bepaalde maatskappy is teen ‘n uitsonderlike hoë bedrag aangestel vir dié projek.

Wanbesteding van belastinggeld en die gepaardgaande verval van dienste en infrastruktuur is ‘n skande. Kiesers het geleentheid om die spandabelrige ANC in die komende verkiesing te vervang.

Navrae: 078 646 1289

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.