"Die VF Plus verwelkom die aankondiging van die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, dat die verbod op veeveilings gelig word. Die verbod op veilings volg op die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo," sê Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van landbou.
"Die VF Plus verwelkom maatreëls wat deur die minister aangekondig is om verdere uitbreking te voorkom en die situasie te monitor.
"Die VF Plus het sedert die aankondiging van die uitbreking van die siekte in 2019 daarop aangedring dat die departement gesonde gebiede binne provinsies verklaar waarbinne veilings steeds kan plaasvind om sodoende te verseker dat die boere en die ekonomieë van die provinsies nie ernstig benadeel word nie."
"Suid-Afrika se landbousektor gaan reeds gebuk onder die onsekerheid van grondonteiening sonder vergoeding, die droogte wat die landbousektor reeds vir jare lank teister en die mees onlangse verbod op veilings weens bek-en-klouseer.
"Die verbod op veilings het gelei tot 'n ernstige ekonomiese verlies vir die landboubedryf wat na raming meer as R10 miljard beloop. Dit is ‘n ernstige verlies, aangesien die veiling-industrie se omset, luidens ‘n berig, R81 miljard per jaar is.
"Die departement ervaar steeds ‘n wesenlike tekort aan veeartse. Die VF Plus eis dat die departement so gou doenlik veeartse aanstel en die stelsel verbeter om verdere uitbreking van bek-en-klouseer te verhoed. Die departement moet seker maak dat die land se rooisones en grense beveilig word om te voorkom dat gesonde diere met besmette diere in aanraking kom.
"Die departement kan nie maatreëls aankondig en dit selektief toepas nie. Die VF Plus sal die departement verantwoordbaar hou om te verseker dat hierdie maatreëls deur die bank in alle kategorieë (kommersieel en ontwikkelend) van landbou gehoorsaam word."
"Dit is belangrik dat die departement voorkomend optree ten opsigte van siektes soos bek-en-klouseer en nie, soos in hierdie geval, reaktief nie," sê Breedt.