"Die Suid-Afrikaanse sportvereniging vir verstandelik gestremde atlete (SASA-II) het hierdie atlete gruwelik in die steek gelaat. Weens swak bestuur en onbeholpenheid mag dié atlete nie later vanjaar aan die internasionale Trisomie-spele in Turkye deelneem nie," sê Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van sport.
"Weens sanksies wat as gevolg van wanbetaling deur die Internasionale Sportfederasie vir mense met gestremdhede (INAS) teen SASA-II ingestel is kon SASA-II ook nie spanne inskryf vir die Global Games, die eweknie van die Olimpiese Spele of Paralimpiese Spele vir verstandelik gestremde atlete nie. Suid-Afrikaanse verstandelik gestremde wêreldkampioene kon dus nie internasionaal deelneem aan die spele wat in Oktober 2019 in Australië plaasgevind het nie.
"Weens dieselfde sanksies, wat nie in die tussentyd deur SASA-II of die departement van sport aangespreek is nie, is hierdie atlete se drome om deel te neem aan die Trisomy Games, ‘n belangrike internasionale kompetisie in Maart vanjaar, ook aan skerwe.
"Die departement van sport het hoegenaamd nie die wil of vermoë getoon om enigsins die probleem aan te spreek nie."
"Suid-Afrika se verstandelik gestremde atlete kwalifiseer om in verskeie sportkodes aan internasionale kompetisies deel te neem. Hierdie sportkodes sluit onder andere in gimnastiek, swem, tafeltennis, tennis en atletiek. Gedurende die vorige Trisomy Spele in Italië het die Suid-Afrikaanse span 79 medaljes verower. Van dié atlete hou verskeie wêreldrekords.
"Ouers en ander belanghebbende partye het aangebied om self die fondse in te samel om atlete in staat te stel om te kompeteer. Die liggaam het egter enige vorm van privaatbefondsing geweier, maar het ook niks gedoen om die fondse self in te samel wat benodig word om die atlete in te skryf nie.
"Sekere spanne, soos die swemspan, kan ten spyte van die internasionale sanksies steeds deelneem. SASA-II het egter by monde van die liggaam se voorsitter, mnr. Dikwadi Mohlabi, steeds geweier met die verskoning dat uitsonderings nie gemaak kan word nie.
"Dit is absurd dat atlete van internasionale gehalte op so ‘n minderwaardige wyse behandel word deur nie net die liggaam wat veronderstel is om hulle beste belange te bevorder nie, maar ook deur die departement van sport wat by elke denkbare geleentheid met hulle sogenaamde inklusiwiteit spog."
"Die voorgestelde wysigingswetsontwerp oor sport en rekreasie wat onlangs gepubliseer is en wat aan die departement en minister meer mag en inspraak in sportkodes sal gee, is doodgebore as dit aan die hand van die SASA-II-geval beoordeel word. As die departement nie eens kan ingryp om die internasionale deelname van wêreldgehalte atlete te verseker nie, voorspel dit nag vir alle sportkodes in Suid-Afrika," sê Denner.