fbpx
Vryheidsfront Plus

Tree nou op teen munisipaliteite wat OG se voorstelle ignoreer

"Die krisissituasie rondom munisipaliteite kan nie toegelaat  word om jaar na jaar verder te verswak terwyl daar geen optrede of gevolge is vir amptenare wat hulle nie eens aan die Ouditeur-Generaal (OG) se aanbevelings steur nie," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en parlementêre woordvoerder vir samewerkende regering.

Groenewald sê die toestand van munisipaliteite bring stabiliteit in Suid-Afrika ernstig in die gedrang en moes lank reeds tot nasionale krisis verklaar gewees het. Munisipaliteite is lank reeds nie meer in staat om in Suid-Afrikaners se basiese behoeftes te voorsien nie.

Hy sê dit is ‘n skande dat net agt munisipaliteite in die land skoon oudits gekry het en dat drie provinsies, die Vrystaat, Noordwes en Limpopo, nie ‘n enkele skoon oudit ontvang het nie.

"Daar moet opgetree word teen amptenare wat verantwoordelik is vir die moeras waarin munisipaliteite verkeer"

 

"Dit is ook kommerwekkend dat die situasie ook in die Wes-Kaap besig is om agteruit te gaan waar skoon oudits van 70% tot 40% gedaal het.

"Die OG waarsku in sy verslag dat Suid-Afrika in ‘n doodloopstraat gaan beland wat dienslewering aanbetref indien die situasie nie verbeter nie. Die VF Plus wil aan hom sê dat Suid-Afrika hom lank reeds in ‘n doodloopstraat bevind en die OG hoef net na die jarelange, landwye opstande oor dienslewering te kyk om dit te besef.

"Die VF Plus kan nie sien dat die situasie hoegenaamd gaan verbeter as daar nie iets anders aan die probleem gedoen word as wat tot dusver die geval was nie.

"Regstellende Aksie (RA) en kaderontplooiing wat daartoe gelei het dat onbevoegde amptenare in bestuursposisies geplaas word, is ‘n groot deel van die probleem. Die ander rede is dat daar jaar na jaar voortgeploeter word sonder enige gevolge hoegenaamd vir die amptenare wat verantwoording moet neem.

"Dit moet nou verander. Daar moet weggedoen word met RA en sy skadelike gevolge en bevoegde amptenare moet aangestel word. Daar moet opgetree word teen amptenare wat verantwoordelik is vir die moeras waarin munisipaliteite verkeer en die vrot appels moet afgedank word," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.