Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Strafregtelike klag volg oor grootskaalse korrupsie in Matlosana (Klerksdorp)

Die Matlosana-plaaslike munisipaliteit se 2016/2017-jaarverslag wat ten tyde van ‘n raadsvergadering ter tafel gelê is, is weereens ‘n bewys dat die ANC-regering nie daartoe in staat is om die munisipaliteit behoorlik te bestuur nie en dat daar grootskaalse knoeiery aan die gang is, sê Michal Groenewald, VF Plus-raadslid vir Matlosana.

Groenewald sê die munisipaliteit, wat bestaan uit Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein, het ‘n gekwalifiseerde ouditmening gekry op grond van sy onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes. Sy laste oorskry sy bates met nagenoeg R307 miljoen en kan dit nie as lopende saak funksioneer nie.

“Die Ouditeur-Generaal (OG) se bevindings is duidelik dat daar geen voorkomende maatreëls ingestel is om onreëlmatighede en vermorsing van belastingbetalers se geld te verhinder nie.  Die Wet op Munisipale Finansiële bestuur (MFMA) word oorskry deurdat daar nie ondersoeke gedoen word na die onreëlmatighede nie.

 “Volgens die OG is daar steeds sowat R1.49 miljard se ongemagtigde uitgawes van vorige finansiële jare waaraan steeds nie aandag geskenk is nie.  Daar was dus tot op datum geen gevolge vir diegene wat vir hierdie enorme vermorsing van belastingbetalers se geld verantwoordelik was nie.

“Hierdie bedrag sluit nie die 2016/2017 finansiële jaar se ongemagtigde uitgawes van nagenoeg R184 miljoen in nie.  Die vermorsing en korrupsie gaan dus onverstoord voort.

“Luidens die verslag het die munisipaliteit gedurende die vorige finansiële jaar sowat R22 miljoen se onreëlmatige uitgawes aangegaan met betrekking tot betalings wat in teenstelling met die voorgeskrewe aankoopregulasies gemaak is.  Hierdie uitgawes is nie deur die munisipaliteit aan die OG openbaar gemaak nie.

“Dit wil voorkom of die ANC so arrogant is dat hy homself as bo die wet verhewe ag en wetlike voorskrifte bloot as ‘n riglyn beskou.  Die VF Plus beskou hierdie oudituitkomste as totaal onaanvaarbaar en gaan ‘n strafregtelike klag teen die munisipale bestuurder en burgemeester by die polisie indien vir oortreding van die MFMA, sowel as die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Bedrog en Korrupsie,” sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.