"Ouers en ander belanghebbendes in die onderwys moet betrokke wees by die prosesse van kurrikulumvorming in Suid-Afrika. Dit beteken onder meer om betroubare inligting te bekom, liewer as om op sensasionele mediaberigte te reageer," sê Wynand Boshoff, VF Plus-woordvoerder vir onderwys.
In die afgelope week was daar ontsteltenis na aanleiding van 'n mediaberig dat die nuwe kurrikulum vir lewensoriëntering onder meer masturbasie aan graad viers gaan onderrig. Die departement van onderwys het in reaksie gesê dat dit onwaar is en die betrokke joernalis se motiewe is bevraagteken.
Volgens die VF Plus beteken dit steeds nie dat die party die inhoud van lewensoriëntering in skole onderskryf nie. Dié party gaan van 'n Christelike lewens- en wêreldbeskouing uit waarin seks beskou word as 'n godgegewe gawe wat binne die huwelik uitgeleef word.
"Die vak lewensoriëntering het 'n ander vertrekpunt. Aanbieding van die vak hang van die onderwysers af en die VF Plus moedig leerkragte aan om professioneel op te tree en leerinhoud oordeelkundig te behandel.
"Veranderings in die kurrikulum word gepubliseer voor dit gefinaliseer word. Die VF Plus sal hierdie saak dophou, maar versoek dat kerke, ouers en ander instellings en individue dieselfde sal doen. In so 'n geval kan tydig en toepaslik gereageer word.
"Die VF Plus beskou hierdie kortstondige storm as getuienis van die noodsaak om die onderskeie kultuurgroepe die beheer te gee oor hul kinders se onderwys," sê Boshoff.