Die VF Plus in Sedibeng is gekant teen die besluit van genl. Zondwa Molefe, Sedibeng-groepsbevelvoerder, om die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Walkerville (sektor 2) van sy pligte en magte te onthef aangesien dié forum doeltreffend en suksesvol is.
"Dié GPF is waarskynlik een van die bes opgeleide en professionele forums binne die Midvaal-gebied en spog met groot misdaadbekamping-suksesse," sê Kobus Hoffman, VF Plus-raadslid in Sedibeng.
Tydens ‘n dringende gemeenskapsvergadering op 25 Maart 2019 by die Walkerville-skougronde, het tientalle ontevrede lede en inwoners hul misnoeë hieroor uitgespreek. Daar is steeds geen duidelike rede gegee vir die besluit nie.
Die VF Plus veroordeel die verbrokkeling van veiligheidsinisiatiewe deur die polisie ten sterkste. Die polisie kom ironies genoeg reeds nie die mas behoorlik op nie weens personeeltekorte en swak opgeleide en onbevoegde polisiebeamptes.
"Dit wil voorkom of die polisie teen die gemeenskap werk deur hulle te verhinder om hul areas te beveilig. Hierdie ondeurdagte optrede bring landelike veiligheid ernstig in die gedrang.
"Die VF Plus is oortuig daarvan dat genl. Molefe onbehoorlik optree. Sy laat die gemeenskap weerloos en kwesbaar teen aanvalle en misdaad. Die VF Plus eis ‘n spoedige verduideliking en sal die saak verder voer," sê Hoffman.