"Vakbonde is tans die stert wat die regering se kop na willekeur rondswaai, ongeag die skade wat in die proses aan Suid-Afrika se ekonomie of die voortbestaan van openbare ondernemings soos die SAL aangerig word," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van openbare ondernemings.
"Vakbonde en partye soos die ANC en die EFF het net hul eie belange en ideologieë op die hart en gee nie werklik om oor die toekoms van werkers nie.
Die verhoging van 5,9% en die terugwerkende betaling op die verhoging tot April vanjaar wat nou by die SAL beding is, kan die bankrot-onderneming laat vou en sowat 11 000 mense werkloos laat. Dit gaan die vakbonde, wat net op eie korttermyn-gewin ingestel is, oënskynlik verby.
"In hierdie geval is dit duidelik dat ‘n salaris sonder enige onmiddellike verhoging steeds ‘n beter toekomsvooruitsig is as geen werk en geen salaris nie.
"Vakbonde is op vele terreine besig om die regering te verhinder om te doen wat nodig is om die ekonomie te red. Een voorbeeld is die aanstelling van ‘n bekwame uitvoerende hoof, Phakamane Hadebe, by Eskom."
"Hy het die probleem van ‘n onvolhoubare en buitensporige salarisrekening by die kragvoorsiener korrek geïdentifiseer as een van die kragvoosiener se groot probleme en het ‘n moratorium op salarisverhogings voorgestel. NUM het dit teëgestaan en Hadebe het eindelik bedank. Dieselfde het gebeur met Vuyani Jarana by die SAL.
"Die regering sal standpunt moet inneem teen sy alliansievennote. Dit kan nie langer uitgestel word nie. Die verhoging by die SAL kan nie bekostig word nie en is nie volhoubaar nie. Die lugdiens kan nie eens sy salarisse vir hierdie maand betaal nie. Hoe hy die verhoging en terugbetaling gaan bekostig, is dus ‘n ope vraag.
"Hierdie onredelike eise van vakbonde en die gedurige reddingspakette wat dit tot gevolg het, kos die belastingbetaler miljarde rande. Dit is geld wat regtens aangewend moet word vir infrastruktuur en dienslewering aan die armes, nie om onbevoegdheid en onredelike eise te finansier nie."
"Die regering weet die fiskus kan buitensporige salarisse en reddingspakette nie meer bekostig nie, maar hy staan magteloos voor die vakbonde. Die VF Plus sê genoeg is genoeg, die streep moet nou getrek word om te verhinder dat vakbonde die land saam met hulle oor die afgrond sleep," sê Wessels.