"Die eens trotse Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) wat in 1945 gestig is en sedert Julie 2018 onder administrasie is, steier tans en kan binne 24 maande bankrot wees vanweë ‘n toenemende tekort aan fondse," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van handel en nywerheid.
"Die SABS het vandag in die parlement verslag gedoen aan die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid oor ‘n omkeerstrategie.
"Dit is duidelik dat swak bestuur, korrupsie en ‘n uitvloei van bestuurs- en tegniese kundigheid die instelling lamlê terwyl toetslaboratoriums disfunksioneel is vanweë swak instandhouding. Die salarisrekening van die SABS beloop sewentig persent van sy administratiewe en operasionele begroting. Die instelling beskik ook nie oor die nodige bestuurskundigheid en tegnici nie.
"Die SABS moet nou noodgedwonge teen groot koste van eksterne konsultante gebruik maak om die instelling reg te ruk."
"Dit is duidelik dat te midde van die swak Suid-Afrikaanse ekonomiese klimaat die omkeerstratgegie hoogs onwaarskynlik sal slaag.
"Die SABS is boonop sy IATF-akkreditasie (International Automotive Task Forec) kwyt weens die nie-voldoening aan internasionale standaarde en groot kliënte soos Toyota Suid-Afrika doen hul standaardtoetsing nou by ander instellings.
"Maatskappye wat midde die heersende ekonomiese klimaat in Suid-Afrika onder finansiële druk verkeer, gaan ook nie verdere uitgawes aan om aansoek te doen vir ‘n standaard nie, veral omdat die SABS ook te lank neem om so diens te lewer.
"Die VF Plus voorspel dat die nasionale reguleerder vir verpligte spesifikasies (NRCS), wat tans ook onderworpe is aan ‘n omkeerstrategie, en ander staatsinstellings, binnekort in die voetspore van die SABS sal volg."
"Die VF Plus het aanbeveel dat die SABS herstruktueer in pas met die uitdagende ekonomiese omstandighede van die land en die nodige kundigheid op meriete aangestel word om die omkeerstrategie te bestuur in plaas daarvan om rasse-transformasie die absolute hoofdoelwit te maak," sê Mulder.