Vanaf 4 tot 7 Augustus vanjaar het die VF Plus AfriForum vergesel om toetse te doen oor die watergehalte in spruite en panne in die Matlosana-omgewing (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein).
Die resultate wat pas bekend gemaak is, is skokkend. Veral die hoë vlakke van ecoli-besoedeling (riool) in onder meer die Schoonspruit, Pretoriuspan en Koekemoerspruit is uitgewys.
Die toetse is gedoen nadat verskeie klagte van ondraaglike stank van inwoners in die aangrensende woonbuurte ontvang is. Hierdie spruite en panne is gewilde ontspanningsareas vir die inwoners van Matlosana. Dit word as hengel en roeiplekke gebruik en mense swem selfs in die water. Die besoedeling hou dus ‘n direkte gesondheidsgevaar vir die inwoners in.
Die besoedeling is ‘n direkte gevolg van die ineenstorting van riool-infrastruktuur weens ‘n gebrek aan instandhouding. Rioolwater van nabygeleë pompstasies vloei deurlopend in hierdie panne en spruite. Die verval van die riool-infrastruktuur regoor die munisipale gebied lei ook tot die besoedeling van die grondwater.
Die VF Plus het ‘n dringende versoek aan die munisipaliteit se infrastruktuur departement gerig dat daar onverwyld stappe gedoen moet word om verdere besoedeling te voorkom. Dit is ook van kritieke belang dat die stand van die munisipaliteit se totale riool-infrastruktuur ondersoek word en tydige onderhoudswerk gedoen word.
Deurlopende, professionele onderhoud van infrastruktuur sal voorkom dat daar telkens krisisbestuur toegepas moet word om inwoners te beveilig.
Die VF Plus is ook bekommerd oor die feit dat beide die Schoon- en Koekemoerspruit in die Vaalrivier uitmond. ‘n Nasionaal-belangrike waterstelsel word dus ook bedreig deur hierdie besoedeling.
Dit is ‘n skande dat die kernbron van die volhoubaarheid van lewe in Suid Afrika, water, bedreig word deur lakse en onbevoegde plaaslike-ANC regerings soos in Matlosana. Weens die erns en impak van die besoedeling, berei die VF Plus in Matlosana ook tans klagte voor wat eersdaags by die Groen Skerpioene teen die munisipaliteit ingedien sal word.
Navrae: 082 443 5569