"Suid-Afrika se regstelsel sal al die mense van die land beter kan bedien indien daar op alle vlakke wegbeweeg word van die hoofsaaklike gebruik van slegs Engels en om al elf amptelike tale deel van die stelsel te maak," het Corné Mulder, VF Plus woordvoerder regsadministrasie tydens die begrotingsdebat van dié departement gesé.
Mulder het verwys na ‘n verslag van die parlementêre portefeuljekomitee oor die kantoor van die hoofregter wat slegs op een plek en in een sin melding maak van taal waar gesê word dat die studie van inheemse Afrika-reg ‘n verpligte deel van die beoefening van reg in Suid-Afrika is.
Mulder het hdie parlament herinner dat artikel ses van Suid-Afrika se Grondwet erkenning gee aan al elf die land se amptelike tale.
"Dit is belangrik om al die tale op te hef en te ontwikkel, ook in howe en die regstelsel"
"In artikel 6(2) word ‘n duidelike verpligting op die staat geplaas om praktiese en positiewe stappe te neem om die status van alle tale te verhef en die gebruik daarvan aan te moedig.
"Die regering erken dat die howe vir almal toeganklik moet wees, en in hierdie verband is dit belangrik om kennis te neem van die feit dat taal ‘n groot rol speel in hierdie toeganklikheid vir verskillende mense.
"Die realiteit is egter dat in baie gevalle, veral in landelike gebiede, Engels nie die lingua franca of omgangstaal vir die mense is nie.
"Die vraag wat die regering en die hoofregter moet beantwoord is of Suid-Afrika nie besig is om wat taal aanbetref in die verkeerde rigting te beweeg nie. Howe raak toenemend eentalig, en Engels word hoofsaaklik gebruik.
"Dit is belangrik om al die tale op te hef en te ontwikkel, ook in howe en die regstelsel. Dit sal ‘n goeie boodskap uitstuur as daar byvoorbeeld aan die regsfakulteite regdeur Suid-Afrika gesê word om nie slegs Engels in opleiding te gebruik nie, maar ook Afrika-tale by die opleidingstelsel te inkorporeer.
"Slegs Engels is nie in belang van die mense van Suid-Afrika nie, dit maak howe nie meer toeganklik vir almal nie en is strydig met die land se Grondwet," het Mulder gesê.