Die VF Plus verwerp enige vorm van rassisme en sal hom sterk daarteen uitspreek, maar is van mening dat die strawwe wat vandag opgelê is aan twee mans in die sogenaamde ‘doodskissaak’ buitensporig is en dat dit dubbele standaarde skep wat rassepolarisasie in Suid-Afrika kan aanwakker, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê dit was lank reeds duidelik dat die twee mans, Theo Jackson (14 jaar effektiewe gevangenisstraf) en Willem Oosthuizen (11 jaar effektief) voor vandag se uitspraak reeds deur die gemeenskap skuldig bevind en veroordeel is.
Volgens dr. Groenewald is daar talle onlangse hofuitsprake wat duidelik die dubbele standaarde met strafoplegging uitwys.
“In die geval waar ‘n wit skoolmeisie, Bernadine Kruger, enkele jare gelede dood is nadat die hof bevind het dat ‘n swart taxibestuurder haar ‘met opset’ oor twee bane gevolg en van haar bromponie afgery het, was die aanvanklike klag maar roekelose en nalatige bestuur.
“Eers na ingryping en vertoë van die VF Plus, is die aanklag na moord verander. Landdros Edmund Patterson het selfs in sy uitspraak gesê dit was duidelik en doelbewuste moord, en ‘nie 'n fout of nalatigheid nie’. Die vonnis was net agt jaar.
“In die onlangse KFC-saak het drie van die vyf wit beskuldigdes eers na byna tien weke borgtog gekry en word hulle selfs van poging tot moord aangekla terwyl daar verskillende weergawes oor die voorval is, en wie eerste met die struweling begin het.
“In nog ‘n voorval in Augustus vanjaar is ‘n vrou, Carien van Staden deur die bors geskiet deur ‘n swart soldaat wat haar en ‘n vriend byna van hul motorfiets afgery het. Sy is geskiet toe sy die man gekonfronteer het. Alhoewel haar vriend ‘n video-opname van die voorval gemaak het, is die beskuldigde nie eens in hegtenis geneem nie.
“In die doodskissaak is niemand gedood of ernstig beseer nie, en die indruk word geskep dat die hof dié uitermatige strawwe oplê om ‘n boodskap uit te stuur dat wit op swart-rassisme swaar gestraf sal word. Die probleem met rassisme is dat dit na beide kante sny en daar bestaan wel ook iets soos swart op wit-rassisme.
“Rassepolarisasie in Suid-Afrika is besig om al hoe meer op die voorgrond te tree en instellings wat deel uitmaak van die strafregstesel, soos die polisie en die regbank, moet ‘n voorbeeld stel van onpartydigheid.
“Die vonnis in die doodskissaak bewys egter die teendeel en indien dit nie reggestel word in ‘n appèlverhoor nie, gaan dit meer polarisasie skep en rasseverhoudinge in die land ernstig benadeel, sê dr. Groenewald.