"President Cyril Ramaphosa se aankondiging dat alle openbare skole vir vier weke sluit is nie onverwags nie. Dit dui weereens op die invloed van vakbonde op die regering se besluitneming en is 'n veralgemeende benadering tot 'n komplekse probleem," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Die besluit is teleurstellend, omdat daar skole is wat buitengewone moeite gedoen het om veilig te open en hulle Covid-19-vrye status te beskerm.
"Hierdie benadering van die regering, soos die meeste van sy besluitneming oor regulasies, is irrasioneel en maak nie sin nie aangesien dit nie op bewese navorsing of wetenskaplike data gegrond is nie.
"Wat die besluit oor skole aanbetref, kan die vraag met reg gevra word waarom skole waar daar geen Covid-19-gevalle is nie, ook moet sluit."
"Dit is verstaanbaar dat ouers huiwerig is om hul kinders terug te stuur skool toe. Daarom moet dit die ouers se keuse bly om hul kinders skool toe te stuur.
"Op akademiese gebied sal die gevolge hiervan nog vir jare gedra word. Die huidige akademiese jaar sal volgens die president se aankondiging nou na die volgende akademiese jaar oorspoel, wat gevolge vir opeenvolgende jare inhou.
"Die president se aankondiging van 'n nuwe koördinerende sentrum om Covid-19-verwante korrupsie en bedrog te ondersoek, word verwelkom. Dit is egter 'n skande dat daar reeds etlike miljarde rand se korrupsie ten tyde van die pandemie en met betrekking tot noodfondse plaasgevind het.
"Die president het reeds maande gelede gesê dat korrupsie nie geduld sal word nie. Sy uitlatings hieroor sal blote lippetaal wees indien oortreders nie in hegtenis geneem en vervolg word nie.
"Die epidemiese korrupsie, uitbuiting van die staat deur tenderpreneurs en wanbesteding is 'n politieke probleem. Die ANC-regering het die kultuur gevestig en skep deur sy beleid en wetgewing die omgewing waarin hierdie wandade kan plaasvind."
"Indien die president ernstig is om korrupsie hok te slaan, moet hy sy eie huis in orde kry en optree teen politici wat by ongerymdhede betrokke is. Dit is nie slegs amptenare wat hulle aan korrupsie skuldig maak nie, maar in baie gevalle is dit ook hooggeplaaste politieke ampsbekleërs.
"Die regering se hantering van die Covid-19 pandemie laat veel te wense oor," sê Groenewald.