Die blatante verontagsaming van munisipale beleid deur die ANC-beheerde Polokwane-plaaslike munisipaliteit is uiters kommerwekkend, omdat dit besig is om tot die verlies van miljoene rande te lei," sê Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo.
Volgens ‘n verslag van die munisipaliteit se openbare rekeningekomitee (MPAC) het die munisipaliteit afwykings en onreëlmatige besteding van sowat R144 miljoen vir die afgelope boekjaar aangeteken.
Die afwykings van die munisipaliteit se verkrygingsbeleid van sowat R54 miljoen kan meestal toegeskryf word aan swak beplanning en die onvermoë van amptenare om die goedgekeurde begroting deur middel van goeie beplanning en bestuur toe te pas.
Redes wat aangevoer word vir die afwykings, soos dat die verkrygsingsbeleid-proses onprakties is, is belaglik. Amptenare kan nie doen wat hulle wil omdat die beleid volgens hulle onprakties is nie. Die beleid is daar vir ‘n rede, en dit is om te verseker dat belastingbetalersgeld nie vermors word nie. Wanneer daar van die beleid afgewyk word, is dié wanbesteding die gevolg.
"Onreëlmatige besteding van meer as R60 miljoen wat aan sekere diensverskaffers uitbetaal is, is ewe kommerwekkend.
"Volgens die komiteeverslag het nege kontrakte in die 2017/18-boekjaar verval en moes die dienste van die diensverskaffers teen buitensporige bedrae behou word totdat nuwe diensverskaffers deur die korrekte prosesse aangestel kon word.
"So moes die munisipaliteit sowat R61 miljoen aan ‘n diensverskaffer betaal wat voertuie aan die munisipaliteit voorsien.
"Die VF Plus sal aandring op behoorlike ondersoek na hierdie buitensporige afwykings en onreëlmatige uitgawes. Dit is onaanvaarbaar dat die ANC-beheerde munisipaliteit miljoene rande vermors terwyl dienslewering en munisipale infrastruktuur daagliks meer en meer agteruitgaan," sê Maritz.