Plaasmoorde
VF Plus – aksies en suksesse
VF Plus slaag om "Kill the Boer, ……" as haatspraak te verklaar
Toe die ANC aanhou om die lied in die openbaar te sing, lê die VF Plus in 2003 'n klagte daaroor. Die klagte slaag en die SA Menseregtekommissie verklaar die gewraakte slagspreuk tot haatspraak. Hierdie uitspraak is daarna gebruik in alle verdere suksesvolle hofaansoeke en klagtes deur verskeie organisasies, tot vandag toe.
Doodstraf gevra asook 'n Kommissie van Ondersoek na plaasmoorde
Na toesprake en politieke druk stel die Polisie in 2001 'n Kommissie van Ondersoek aan na plaasmoorde en -aanvalle. Die VF Plus was die enigste politieke party wat 'n voorlegging aan die Kommissie gemaak het. Ons voorlegging stel dit dat plaasmoorde polities is en dat die doodstraf teruggebring moet word.
VF Plus lê klagte by Verenigde Nasies se Internasionale Menseregtekommissie
Dr. Pieter Mulder het gesê dat dit belangrik is om die internasionale gemeenskap se aandag op die probleme van die Afrikaner te vestig. As 'n eerste stap het die VF Plus 'n klag oor Afrikaners en boere se gebrek aan veiligheid in SA in 2001 by die Hoë Kommissaris van die Verenigde Nasies se Internasionale Menseregtekommissie (IMRK) gelê. So is dit onder die aandag van me. Mary Robinson gebring.
VF Plus stel verslag op oor misdaad en plaasmoorde vir Mandela
Na deurlopende VF Plus-klagtes vra president Mandela in 1997 vir genl. Constand Viljoen, as leier van die VF, om 'n verslag op te stel oor misdaad en plaasmoorde. Viljoen betrek kol. Jan Breytenbach, oudbevelvoerder van 32 Bataljon, by die misdaadplan. Die deeglike plan maak voorsiening vir die vestiging van plattelandse strukture teen misdaad. Lede in die Polisie hou nie van die plan nie want hulle is bang vir 'n private leër.
VF Plus bring plaasmoorde onder die aandag van VSA, Britse en Duitse leiers
Tydens pres. George Bush se besoek aan Suid-Afrika oorhandig dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, op 8 Julie 2003 'n video aan sy afvaardiging. Die video handel oor plaasmoorde in SA. Op soortgelyke wyse het dr. Mulder op 14 Julie 2003 persoonlik 'n kopie van 'n program van Carte Blanche oor plaasmoorde in Londen aan die buitelandse komitee van die Britse parlement oorhandig. Dieselfde video is op 23 Januarie 2004 aan mnr. Gerhard Schröder, Duitse Kanselier, tydens sy besoek aan Suid-Afrika oorhandig. Mulder het gesê dit is deel van die VF Plus se veldtog om internasionale aandag te vestig op die "onaanvaarbare hoë voorkoms van gewelddadige plaasaanvalle en -moorde in Suid-Afrika".
VF Plus veg in Parlement met vrae en debatte oor plaasmoorde
Die Vryheidsfront Plus het verbete geveg teen die afskaffing van die Kommando-stelsel en stel elke jaar 'n parlementêre vraag oor die statistiek van plaasmoorde. Die gevolg was dat die Polisie vanaf 2007 nie meer die statistiek wou gee nie. Deur vol te hou het die minister onderneem dat dit nou weer gegee sal word.
VF Plus vestig openbare aandag op moorde en misdaad met sigbare protesaksies
Die VF Plus neem deel aan optogte teen plaasmoorde. So het die party op 21 Maart 2004 sestig wit kruise in Pretoria geplant om die moordsyfer van 60 per dag tasbaar uit te beeld. By elke kruis was 'n paar skoene om aan te toon dat iemand se plek leeg is. Op 27 April 2010 plant die VF Plus kruise in Potchefstroom.
VF Plus bring plaasmoorde onder die aandag van UNPO en Europese Unie Parlement
In Junie 2012 hou dr. Pieter Mulder gesprekke en samesprekings met lede van die Europese Unie Parlement in Strasbourg oor plaasmoorde. Op 29 November 2012 stel hy ook 'n mosie oor plaasmoorde voor by die 11de Kongres van UNPO in Genéve wat eenparig aanvaar word. Mulder is verkies op die presidensie van UNPO en op 22 November 2013 plaas hy plaasmoorde op die agenda waar dit bespreek word. Die VF Plus doen alles moontlik om die omvang en onaanvaarbaarheid van plaasmoorde onder die internasionale gemeenskap se aandag te bring.