Februarie 2014
Ope brief aan Suid-Afrikaners: Wegbly-stem in 2014-algemene verkiesing in effek ’n stem vir die ANC
Is jy een van die Suid-Afrikaners wat glo dat jy jou tyd mors om te stem? My stem maak tog geen verskil nie, glo jy.
Het jy geweet dat in die vorige algemene verkiesing meer Suid-Afrikaners van die stembus af weggebly het, as wat vir die ANC gestem het?
As net die helfte van die nie-stemmers teen die ANC gaan stem het, het die ANC verloor.
In daardie jaar (2009) het 43% van alle Suid-Afrikaners wat mag stem – nie gestem nie.
Wat was die gevolg?
Die gevolg was dat die ANC die verkiesing gewen het terwyl maar slegs 37% van alle Suid-Afrikaners wat mag stem, vir hulle gestem het.**
Is jy dalk een van die Suid-Afrikaners wat verder glo dat daar geen bewys is dat jou wegblystem die ANC nie sal bevoordeel nie?
Jy is weer verkeerd.
Die maklikste is om dit met ’n eenvoudige som te verduidelik. Terwille van die voorbeeld aanvaar ons net tien kiesers het in Suid-Afrika gestem. As die ANC ses stemme gekry het en die opposisie vier, dan kry die ANC 60% van die parlementslede in Kaapstad en die opposisie kry 40%.
Bly een opposisie-stemmer weg, het die ANC steeds net ses stemme. Die opposisie het drie stemme. Die ANC word bevoordeel omdat die som nou uit nege en nie meer uit tien gemaak word nie. Die ANC het nou ses uit nege of 66%. Die opposisie het drie uit nege of 33%.
Sonder dat die ANC enige stemme bygekry het, het die ANC skielik 6% meer parlementslede in Kaapstad. Die wegbly-kieser het dus veroorsaak dat die ANC van mnr. Zuma die grondwet kan wysig met ’n twee derde meerderheid!
Daar is beslis baie rede vir ongelukkigheid oor wat tans in Suid-Afrika aangaan.
Daarom is dit tyd vir verandering. Om te kla is geregverdig – maar dit alleen gaan nie die verandering bring nie. Hierdie verandering is in elkeen van ons hande.
Om 'n stryd wat so hopeloos lyk aan te pak, is die belangrikste stap, die eerste tree. Die eerste tree om verandering te weeg te bring is om te registreer om te kan stem. As jy eers geregistreer is, kan jy nog steeds besluit om nie later te stem nie. As jy nie geregistreer is nie en jy sou dalk in die hitte van die verkiesingsstryd later kort voor stemdag besluit om tog te stem, kan jy nie.
Die tweede tree na registrasie is om ingelig en verantwoordelik te stem. Stem vir die party wie se waardes die naaste aan jou waardes is.
Omdat geen party die ANC alleen kan wen nie, gaan daar koalisies gevorm word na hierdie verkiesing. Ek gaan daarom in hierdie verkiesing VF Plus stem vir die party wie se Christelike waardes die naaste aan my eie waardes is. Ek verkies ook ’n party soos die VF Plus wat nie huiwer om hulle teen regstellende aksie se onregverdigheid uit te spreek nie sodat hulle my Christelike- en anti-diskriminasie waardes in so ’n koalisie kan indra.
Wat moet jy doen:
Stap 1: Sms jou ID-nommer na 34139 om te bepaal of jy geregistreer is.
Stap 2: Indien nie – gaan die naweek van 8 Februarie na die stempunt naaste aan jou en registreer. Met jou ID boek neem dit minder as 5 minute.
Stap 3: As jy wel geregistreer is maar op ’n ou adres – doen ook stap 2.
Jy kan net dink wat gaan gebeur as al die Suid-Afrikaners wat laas nie gestem het nie, hierdie keer wel stem.
As jy saam met my bekommerd is oor die toekoms van hierdie land, sal jy hierdie aanstuur vir al jou kennisse.
Vriendelike groete,
Pieter Mulder: VF Plus-leier
Tel: 012 6650564; 0861 700 700