Die Phokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp, Pampierstat) het daarmee volhard om twee aanstellings te doen in weerwil van verskeie wetlike probleme en provinsiale voorskrifte oor aanstellings.
Die Noord-Kaapse departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) het die munisipaliteit verlede week tydens ‘n raadsvergadering op die voorskrifte en vereistes gewys, maar dit is verontagsaam.
Verteenwoordigers van Coghsta was juis by die vergadering om leiding te gee oor die wetlikheid van aanstellings met spesifieke verwysing na die vereiste kwalifikasies en ervaring van senior amptenare.
Die speaker van Phokwane, mnr. Goitsemodimo Halter, het egter geen vrae aan hulle toegelaat vanuit die raad nie.
Nadat die Coghsta-verteenwoordigers se mond gesnoer is, is me. Naledi Charlie as direkteur van gemeenskapsdienste aangewys en me. M.L. Taaibos as direkteur van korporatiewe dienste.
Charlie beskik nie oor die nodige kwalifikasies nie en hoewel Taaibos toepaslik gekwalifiseer is, beskik sy nie oor die vereiste ondervinding nie. Dit is vir die VF Plus ononderhandelbaar dat amptenare by munisipaliteite aangestel word wat aan die gestelde vereistes voldoen.
Daar is ʼn duidelike verband tussen swak dienslewering en die aanstel van persone in senior poste wat nie die mas opkom nie. Die VF Plus het die Noord-Kaapse regering gevra om in te gryp en die aanstellings te hersien.